Bloem-krane droog, rose verwelk, inwoners kook

Argieffoto

Argieffoto

Inwoners in die noorde van Bloemfontein  kan reeds teen môre [Woensdag] weer water in hul krane hê, aldus die minisipaliteit se skakelbeampte, Qondile Khedama, maar amptenare en ander rolspelers meen dit kan eers ‘n dag later, of selfs nog later die week geskied, berig die Volksblad.

Intussen berig OFM dat ontstoke inwoners, wat al van Vrydag af sonder water moet klaarkom, reeds van vroeg af by die munisipale hoofkantoor, die Glaspaleis, betoog.

Bloemfonteinse suidelike en westelike, en die hoërliggende noordelike woonbuurte, het die afgelope somer beurtelings ernstige waterkrisisse afgewissel. Die keer is dit die noordelike voorstede se beurt. Die suidelike en westelike woongebiede kry hul water uit die Welbedachtdam in die Caledonrivier, terwyl die res van die stad se water uit die Maselspoortdam in die Modderrivier onttrek.

Die afgelope somer, wat besonder warm en droog is, wou sake maar nie vlot nie. Onder die teenspoed was dat die hoofwaterpyp van die Welbedachtdam na Bloemfontein gebreek het. Die herstelwerk was egter gou tot niet, en die water het weer opgedroog terwyl veral inwoners in hoogliggende dele nog nie eens weer water gehad het nie. Waterkarre moes ingespan word om inwoners van ‘n lafenis te voorsien, terwyl gebottelde water na enkele dae reeds uitverkoop was.

Die jongste krisis het begin toe pompe by die Maselspoort-aanleg ingegee het. Nuwe pompe is uit China bestel, maar intussen is van die bestaande pompe weer aan die loop gekry sodat water kon begin vloei. Toe daal die watervlak van die Maselpoortdam te laag, sodat die pompwerk gestaak moes word.

Duikers is nou gehuur om sluise van die Mockesdam, wat water na die Maselspoortdam moet deurlaat, skoon te maak. ‘n Ondersoek ter plaatse deur ringkoppe het egter ook aan die lig gebring dat oewerboere tussen die twee damme water onwettig onttrek, en selfs aan ander plase voorsien. ‘n Hofbevel word vandag verkry om dié praktyk te staak. Boonop is die Mockesdam weens die droogte en hitte op sy laagste vlak ooit, aldus ‘n mediaverklaring van die munisipaliteit.

‘n Oordragstasie by Tempe wat water van die een stelsel in ‘n noodgeval na die ander kan oordra, is klaarblyklik verslons en werk nie.

Die nuwe pompe vir Maselpoort wat nou in China gebou word, kos R65 miljoen en sal teen Desember vanjaar gelewer word.

Intussen is hoërliggende gebiede in die westelike woongebiede ook gereeld sonder water en die res het ‘n dun straaltjie, sonder dat daar blykbaar ‘n rede voor bestaan.

Die DA het ‘n klag weens beweerde kriminele nalatigheid teen die munisipaliteit gelê, terwyl die Vryheidsfront Plus ‘n klag by die Verbruikerskommissie belê het. Die VF Plus het ook vandag se betoging by die Glaspaleis gereël.

Inwoners is ook ontevrede dat onvoldoende gekommunikeer word wat aangaan, of dat skynbaar foutiewe inligting gekommunikeer word.

Die waterkrisis word vuurwarm in die Volksblad se briewekolom onder die loep geneem. Onlangs het ‘n afgetrede redakteur van die Volksblad, Jonathan Crowther, onder die DA-raadslede ingeklim wat blykbaar nie genoeg vinger sou trek om die mense in hul wyke te help nie. Die DA het ergerlik hierop gereageer. ‘n Afgetrede kollega van Crowther en bekende DA-ondersteuner, Piet Theron, het in ‘n brief Crowther verwyt dat hy vir die ANC steun genereer, en ‘n warm onder die kraag Crowther het afkeurend oor Theron se “logika” gereageer.

Bronne: Mediaverklaring deur die Mangaung-munisipaliteit, Volksblad, OFM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henry ·

Ek bly in bloem en dis interessant dan die mense van die rykwoonbuurtes so tekere gaan ivm die water. Dit laat my dink hoe dit moet voel wanneer miljoene ander Suid-Afrikaners elke dag sonder water moet klaar kom. Een dame in die rykmansbuurt Pentagonpark, het ‘n brief aan Zuma gestuur waarin sy haar onsteldtenis wil bekend maak oor die water , want sy het ‘n dames funksie gereël en dit gaan haar in ‘n verleentheid plaas omdat haar gaste nie water sal hê nie…….kla met die witbrood onder die arm….. en waarom hierdie nou so “groot” storie word verstaan ek nie, want omtrent elke dorp in die Vrystaat ( bv. Brandfort) sit langer as bloem sonder water maar geen haan kraai daaroor nie!

hou op kla ·

We’ll ek weet hoe voel dt om ni water te he ni ma ek kla ni as ek sien ons water is flou begin ek drome en bottels vol te maak dan kry n mens daai ryk mense wat altyd kla oor als en ek is ni eers van blorm ni ons in limpopo op n plaas gebied

Gemsbok ·

Ek verneem dat daar heelwat water vir die inwoners van Orania is. Die water wat op die grasperke gespuit word, word nie eens gemeet nie en die dorp het nog nooit waterbeperkings gehad nie.

Brandforter ·

Jip Henry ek stem saam met jou. Ons almal het al tenks en weet wat om te doen as daar nie water is nie. Dalk moet hulle vir ‘n maand by ons kom bly dan het hulle dalk iets om oor te kla!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.