Bloem-sakeman verlig oor jeugliga-sekwestrasiebevel

Wium Adendorff Foto: Facebook

Wium Adendorff Foto: Facebook

‘n Sakeman van Bloemfontein is verlig oor die hofbevel wat die ANC-jeugliga onder voorlopige sekwestrasie geplaas het nadat die organisasie nie ‘n faktuur van R15 miljoen aan sy maatskappy oorbetaal het vir ‘n konferensie in 2008 nie, het Rapport Sondag berig.

Wium Adendorff, direkteur van Z2A Village en Z2 Presentations, het glo nie die hof genader uit wraak of politiek nie, maar omdat hy sy diensverskaffers moet betaal. “Ons is verlig dat ons oor die eerste hekkie is. Dit was ‘n geval van óf hulle óf ek,” het Adendorff gesê.

Maroela Media het vroeër berig die hooggeregshof in Johannesburg het die bevel op 1 November toegestaan. Klik hier om meer te lees.

Dit beteken glo dat die sake van die ANC-jeugliga in die hande van die meester van die hooggeregshof geplaas sal word en dat sy tussengangse leierskap nie enige besluite kan maak tot die finale bevel in Januarie toegestaan word nie.

Adendorff se maatskappy het in 2008 het die ANC-jeugliga se konferensie in 2008 by die Universiteit van die Vrystaat gereël. Weens “administratiewe chaos” is die konferensie met ‘n dag verleng en Z2 Presentations moes kos en akkommodasie reël vir die afgevaardigdes. “Hulle het ons versoek om in te gryp. Van die mense in koshuise is na luukse hotelle oorgeplaas. Die kos was ‘n krisis,” het Adendorff aan die koerant gesê.

Volgens Rapport het die ANC-jeugliga ‘n ooreenkoms onderteken om die maatskappy se faktuur te betaal. Slegs ‘n paar paaiemente is glo in 2011 betaal en Adendorff is tussen die ANC-jeugliga en die ANC van bakboord na stuurboord gestuur.

Mzwandile Masina, sameroeper vir die ANC-jeugliga, het Donderdag beweer oneerlike voormalige leiers het die organisasie “leeg gemelk”. Hy het nie Julius Malema, geskorste leier van die ANC-jeugliga, se naam genoem nie.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Demokraat ·

Dit is verstommend dat ‘n ‘n filiaal van die ANC naamlik sy Jeugliga, en dit met die medewete van die moederliggaam, nie sy verpligtinge nagekom het nie. Is dit ‘n gebrek aan integriteit, eerlikheid, goeie sakebestuur, ens. Indien iets hiervan, is daar rede tot kommer want is dit is dalk ook die eienskappe en karakter waaroor die moederliggaam, naamlik die ANC, beskik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.