Bloem-seun word oornag Karate Kid

Mark Reynolds. Foto: Facebook

Mark Reynolds, ʼn 15-jarige skoolseun van Bloemfontein, het oornag heldestatus verwerf nadat hy oor die naweek ʼn aanval van agt dronk gewapende mans op hul plaas afgeweer het. Reynolds het ʼn bruin gordel in karate en beoefen die sport al vir vyf jaar. Seder die voorval staan hy as die regte Karate Kid bekend.

Reynolds het Dinsdag in ʼn onderhoud met Jacaranda 94.2 se Complimentary Breakfast gesê die voorval het Saterdag by hul Roodewal-landgoed plaasgevind. ʼn Huiswerker het hulle gebel en gesê daar is dronk mans wat hulle aanval en met klippe gooi. Hulle het die polisie ontbied en is na die werkers se huis, waar die dronk mans hulle konfronteer en rassistiese opmerkings gemaak het. Die groep mans het hulle toe getakel. Reynolds sê die adrenalien het oorgeneem en hy het hard baklei om sy pa en werkers op die plaas, en dié se kinders van die mans te beskerm.

Reynolds het vier tot vyf mans afgeweer. “My pa het my van agter verdedig en die res van die mans geslaan wat my met messe wou steek,” het Reynolds gesê.

Reynolds se pa, Gavin, sê die mans het hulle met messe, besemstokke en ysters aangeval. “Vier of vyf besemstokke is op my rug gebreek, maar ek het dit nie eens gevoel nie. Ek was te vol adrenalien,” het hy gesê. Reynolds kon daarin slaag om ʼn geweer, wat nie gelaai was nie, uit hul voertuig te gaan haal en die aanvallers vir goed te verjaag.

Reynolds was sedert die voorval nog nie terug by sy skool, Hoërskool Sand du Plessis, nie. Hy is eers Maandag uit die hospitaal ontslaan waar hy behandel is vir ‘n gebreekte vinger aan sy linkerhand. Hy moes ook steke aan sy linkeroogbank kry.

Sy pa is nog in die Mediclinic in Bloemfontein. Hy is ʼn diabeet en sterk nog in die hospitaal aan nadat hy met bakstene teen die rug gegooi is en in die maag geskop is. As alles reg verloop behoort hy Woensdag ontslaan te word.

ʼn Woordvoerder van die Bloemfonteinpolisie, het gesê die voorval sal ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.