ʼn 15-jarige seun van Bloemfontein is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy Woensdagoggend in Nelson Mandelaweg in Bloemfontein op pad skool toe deur ʼn voertuig getref is.
Luyanda Majija, ʼn woordvoerder van ER24, het gesê die seun wou die pad oorsteek toe die voertuig hom getref het. “Die seun het verskeie bene gebreek en het kopbeserings opgedoen. Sy oorskulp is ook gedeeltelik afgeskeur,” het Majija gesê.
Die seun is op die toneel gestabiliseer en na die MediClinic Bloemfontein geneem vir verdere behandeling.
Volgens paramedici was die voertuig nie op die toneel toe hulle daar aangekom het nie. Die polisie ondersoek die voorval. Dit is in die stadium nie bekend van watter skool die tiener is nie.