Bloemfontein-lughawe se naam verander

Bloemfontein Internasionale Lughawe

President Jacob Zuma het Donderdag by ʼn geleentheid amptelik Bloemfontein Internasionale Lughawe se naamsverandering onthul.

Die lughawe sal voortaan as die Bram Fischer Internasionale Lughawe bekendstaan.

Die gaste het onder ʼn groot wit tent in die parkeerarea langs die gebou saamgedrom om skuiling teen die reën te soek. Zuma het saam met Ace Magashule, premier van die Vrystaat, by die geleentheid opgedaag. Thabo Manyoni, uitvoerende burgemeester van Mangaung metro, het die president by Mangaung verwelkom.

Manyoni het ook die Fischer-gesin verwelkom en die rol wat Bram Fischer as ʼn “reus van Afrika” gespeel het, erken.

Fischer het oud-president Nelson Mandela en ander tydens die versetveldtog in die apartheidsjare verdedig en het later ook die verdediging by die Rivonia-hofsaak gelei. Hy het ook die krediet ontvang dat hy hulle van die doodstraf gespaar het.

OFM berig intussen dat die 8m-hoë standbeeld van Madiba, wat deur plaaslike sakeman Freddie Kenney geskenk is, later Donderdag op Naval Hill onthul sal word. Dié standbeeld is die grootste van Mandela tot nog toe. Dit is groter as die een by Nelson Mandela-plein in Johannesburg en die een in Londen se parlement-plein.

Foto: OFM www.ofm.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.