Die sangeres Karlien van Jaarsveld en haar rugbyspeler-man, Derick Hougaard, wat onlangs ʼn dubbele verrassing gekry toe hulle die ginekoloog vir hul swangerskap-sonar besoek het, het Maandag uitgevind dit is twee seuns.
Hougaard het Maandagmiddag getwiet: “2 Bulletjies!! My prinsessie nog in Jesus se hande. :)” [sic]
Ronel Brink, Karlien se ma en bestuurder, het daarna getwiet: ”Haha! En daar laat weet @derickhougaard julle. Ja, hierdie ouma kry nog twee seuntjies!! @KarlienVanJ bly die prinses tussen haar 3 prinse!”
Gelukwense het hierna ingestroom.
Maroela Media het onlangs berig dat Karlien en Derick uitgevind het dat hulle ʼn tweeling verwag. Karlien het die nuus verbloem deur te twiet: “Die sonar was WONDERLIK WONDERLIK AMAZING AMAZING”. Sy het kort daarna die nuus op Twitter bevestig: “Dankie vir almal se seënwense vir ons twee babatjies. Dis ʼn wonderlike voorreg. Ek bid God se beskerming oor hulle”.
Derick het geskryf: “So ‘n groot blessing. Dankie almal vir julle bitterlike mooi boodskappe… Voel so opgewonde!!”
Karlien het op 10 Junie uitgevind sy is swanger.