Blou Bul-moordverhoor weer uitgestel

Die Blou Bul-stut Bees Roux tydens 'n hofverskyning vroeër vanjaar. Foto: SAPA

Die moordverhoor van die Blou Bul-stut Bees Roux is uitgestel tot Woensdag aangesien sy regsverteenwoordigers gesprekke met die staat moet finaliseer.

Die verhoor was geskeduleer om van 5 tot 9 September in die hooggeregshof in Pretoria plaas te vind. ‘n Woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Mthunzi Mhaga, wou nie uitbrei oor wat die gesprekke tussen die staat en Roux se regsverteenwoordigers behels nie. Roux was vanoggend saam met sy vriendin by die hof. Daar is aanvanklik vroeër vanjaar vasgestel dat die verhoor van 1 tot 5 Augustus sou plaasvind. Roux se regsverteenwoordiger Rudi Krause sê egter dat die datum hulle nie gepas het nie en dat die staat voortgegaan het met die akte van beskuldiging en die vasstel van ʼn verhoordatum sonder hulle medewete. Krause sê hulle het aansoek gedoen vir ʼn alternatiewe datum aangesien hulle advokaat nie beskikbaar was vir die aanvanklike datum nie. Roux word beskuldig van die moord op sers Ntshimane Johannes Mogale (38) van die Tshwane-metropolisie. Roux het glo in die vroeë oggendure van 27 Augustus verlede jaar Mogale met sy kaal hande doodgemaak nadat hy na bewering deur die metropolisie afgetrek is vir dronkbestuur. Roux is verlede jaar op borgtog van R100 000 vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.