Blou Bulle worstel met Griekwas

Francois Venter (Blou Bulle) en Francois Brummer (Griekwas) Foto: Maroela Media/GB Jordaan

Die Curriebekerreeks staan nie verniet as een van die taaiste kompetisie ter wêreld bekend nie en Vrydagaand wou 9 200 toeskouers hierdie belofte gestand sien. Die Bulle het 15-9 gewen.

Die Blou Bulle moes voor die wedstryd ‘n noodgedwonge verandering aan hul voorry aanbring nadat Frik Kirsten se kuit Woensdag in ‘n oefensessie raakgetrap is. Sy plek is deur die ervare Werner Kruger gevul. Griekwas was na verlede naweek se goeie vertoning teen die Haaie propvol selfvertroue.

Albei spanne het die wedstryd begin met aanvalle in die middelveld en met ‘n oud-Bul soos Pote Human aan die stuur van die Griekwa-skip kon jy verwag dat dit sou bars in die skrums en losspel.

Die skeidsregter, Marius van der Westhuizen, het egter vroeg besluit dat hy beheer van die wedstryd wil oorneem en het helaas die spanne ontneem van innoverende en skeppende spel. Getroue Bloues en Poubloues op die pawiljoen het met rustyd ophou tel hoeveel strafskoppe toegeken was en aan skrumwerk was daar in hierdie wedstryd geen tekort nie.

Griekwas sal Maandag by die videosessie opmerk dat hul beginner-skrumskakel Jacques Coetzee nie die mas kon opkom nie en hy is later deur Marnus Hugo vervang.

Die taktiese verandering het nie gehelp met die feit dat skrums óf in vryskoppe óf in strafskoppe ontaard het nie.

Die Bulle se onvermoë om af te rond het hulle duur gekos en die ou siekte van dwars oor die veld hardloop het kort-kort uitgebreek.

Na rustyd was die strafskoptelling hoër as die gekombineerde puntetotaal en met hierdie frustrasie in die lyf het Ruan Snyman die eerste senior speler geword wat ’n geelkaart gekry het vir herhaalde skewe ingooie by die skrum.

“Hy maak ‘n belaglikheid van die ingooie en ek kan dit nie meer vat nie,” het ons ‘n moedelose skeidsregter hoor praat in die veld-ore.

Van der Westhuizen se oorywerige fluitjie het toe beteken dat geen span uit hul eie gebied wou hardloop nie en die wedstryd het in ‘n doellose geskop ontaard.

Een ligpunt vir die Bulle was dat hul skrums goed begin kliek het. Op sigself is dit ‘n groot prestasie om teen een van die beste spanne in die vaste fasette die oorhand te kry.

Die manne wat uiteindelik die punte aangeteken het, het eweneens maar geskkel op ‘n windstil, laat wintersaand op Loftus.
Nico Scheepers het binne die eerste tien minute twee keer die kol gemis met strafskoppe en Tony Jantjies het uiteindelik gesorg dat die Bulle na 13 minute voorloop met drie punte. Daarna was Jantjies en Jurgen Visser onderskeidelik onsuksesvol met strafskoppe binne hul bereik.

Francois Brummer het die skopwerk by ‘n sukkelende Scheepers oorgeneem en in die proses twee strafdoele aangeteken in onderskeidelik die 21ste en 33ste minuut en dit het gelyk asof Griekwas beheer van die wedstryd oorgeneem het.

Howard Mnisi is net na die rustyd gestraf nadat hy die bal wat oor die kantlyn was weggeskop het en Jantjies het met ‘n skop van 40 meter geslaag om die telling 6-elk te te maak.

JP Nel is tien minute na rustyd by die afbreekpunt gestraf, maar Jantjies kon nie met die skop van 30 meter slaag nie.
Die Ruan Snyman-insident het kort daarna plaasgevind en die skeidsregter het die Bulle gewaaarsku dat die volgende skewe ingooi ‘n rooikaart sou beteken.

Met 15 minute oor het Griekwas onkant gespeel en Jurgen Visser het ‘n 45 meter lange strafskop oorgeklits om die Bulle met drie punte te laat voorloop. Lourens Adriaanse is etlike minute later gestraf nadat hy die bal op die grond gespeel het en Visser het dit 12-6 vir die Bulle gemaak.

Daarna het die skrumwerk van die Bulle gesorg dat hulle Griekwas meters ver terugdruk en Marius van der Merwe het ‘n strafskop aan die Bulle toegeken na onkantspel. Visser kon helaas nie die maklike skop oorskop nie en nog drie punte was vir die Bulle verlore.

Hy het egter sy flater vergoed en met drie minute oor was daar weer onkanspel na ‘n skrum. Die 45 meter pale toe was vir Visser soetkoet en die Bulle het met 15-6 voorgeloop.

Griekwas kon ‘n bonuspunt aanteken, al het hulle die wedstryd verloor nadat Brummer kort na die toeter nog ‘n strafskop oorgeskop het. Die Bulle het uiteindelik met 15-9 geseëvier.

Na afloop van die wedstryd het die onderskeie afrigters hul teleurstelling uitgespreek, soseer dat die gesoute Pote Human die wedstryd as ‘n sirkus bestempel het.

“Ons was reg om die Bulle aan te vat, maar met die skeidsregter se interpretasie van die spel wou die Bulle nie speel nie,” het hy gesê.

“Maak nie ‘n fout nie, ons het baie kanse gehad en ons het dit nie benut nie. Dit gaan ‘n lang busrit Kimberley toe wees.”
Pine Pienaar was sigbaar teleurgesteld en nadat Pale Toe! hom uitgevra het oor die swak skopwerk was sy antwoord: “As ek nou ‘n stelskopper moet kies, sal ek ‘n o.21- man moet vat want hulle is meer akkuraat as die senior spelers. Dis ‘n probleem reg deur die unie en ons moet dadelik aandag daaraan gee.”

Pienaar was egter tevrede met die skrums en het bevestig dat hulle as afrigters duidelike instruksies gekry het oor die skrumingooie. “Dis jammer dat Ruan af is met die geelkaart en op daardie stadium moes Blommetjies ingooi. Hy was so op sy senuwees dat ons gedink het dat hy maar die bal onder Griekwas se voete moet ingooi om die rooikaart te vermy,” het Pienaar gesê.

Vir albei spanne is dit dus strawwe videosessie-tyd komende Maandag en met die toepassing van die ingooireel sal dit die ander unies loon om op te let dat skeidsregters maklik kaarte gaan uitpluk met skrumtyd.

Opsommend: ‘n saai wedstryd wat oorheers was deur die skeidsregter se onwilligheid om die spel te laat vloei en die onvermoë van albei spanne om die voordeelyn oor te steek en drieë te druk.

PALE TOE! se speler van die wedstryd: Jean Cook het soos verlede week weer ‘n reusebydrae gemaak nadat hy op die veld verskyn het. Die jong flank was vol vuur in die vaste losspel en het ‘n strafskop afgedwing kort nadat hy op die veld verskyn het.

PUNTEMAKERS:
Blou Bulle:
Strafskoppe: Jantjies 2, Visser 3

Griekwas:
Strafskoppe: Brummer 3

Geelkaart: Ruan Snyman (Blou Bulle, 58e minuut – herhalende skewe ingooie by die skrum)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.