Blou teen Rooi – DA en Cosatu bots

Dié DA-voertuig se ruit is beskadig na dit met 'n klip gegooi is. Foto: Yusuf Omar, IOL

ʼn Betoging wat vanoggend vreedsaam begin het, het in chaos ontaard na ondersteuners van die DA (geklee in blou) en Cosatu (geklee in rooi) oproerig geraak het na die twee groepe in Johannesburgse strate koppe gestamp het.

Polisie moes traangas en rubber­koeëls gebruik om die spannende situasie onder beheer te bring.

Honderde DA-ondersteuners het vanoggend op Beyers Naude-plein saamgekom om teen die unie se aangehoue verset teen die jeug-loonsubsidie, ʼn beleid wat omtrent 423 000 werke aan jeug en werkloses kan bied. Helen Zille, DA-leier, Makashule Gana, DA-jeugleier, Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, en Mmusi Maimane, het die betoging gelei.

Intussen is hulle deur honderde Cosatu-ondersteuners naby hul hoofkwartiere ingewag, na Cosatu vanoggend vir ondersteuning op hul Facebook-blad gevra het.

Die DA het vreedsaam in Jorissenstraat in Braamfontein na Cosatu se hoofkwartier onderweg toe hul trompop in Cosatu-ondersteuners vasloop.

Cosatu-ondersteuners het DA-ondersteuners geïntimideer en hul pad versper in ʼn poging om die betoging te kniehalter. Cosatu-ondersteuners het bakstene en klippe in die lug in geslinger. ʼn Voertuig van die DA se venster is in die proses stukkendgegooi. DA-ondersteuners het op die klipgooiery reageer en terug gegooi. Polisie moes traangas en later rubber­koeëls onder Cosatu ondersteuners vuur om die situasie onder beheer te probeer bring

Terwyl Zille haar toespraak gelewer het, is sy deur Cosatu-ondersteuners toegejou en gevloek. Na die toesprake is die twee groepe uitmekaar.

Na wat verneem word, is twee mense en ʼn joernalis is beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.