Bloulig-tiener ‘herstel’ van dodelike infeksie

Thomas Ferreira. Foto: Facebook

Thomas Ferreira, wat verlede maand deur ʼn LUR se ampsvoertuig raakgery is in Krugersdorp, is stadig besig om te herstel van ʼn dodelike infeksie.

The Star berig dat Ferreira volgens sy pa, Paul, in ʼn stabiele toestand is en dat sy koors nie meer so hoog is nie. Paul sê sy seun sal na verwagting teen Woensdag uit die hospitaal ontslaan word en voortgaan met sy behandeling by die Live Riverfield rehabilitasiesentrum. Ferreira is verlede week weer in die Krugersdorp-hospitaal opgeneem nadat hy ʼn infeksie opgedoen het. Paul sê sy seun se mediese onkostes beloop reeds R500 000. Die premier van Gauteng, Nomvula Mokonyane, het kort na die ongeluk beloof om Ferreira se mediese onkostes te betaal. Die familie het teen Dinsdag nog niks van Mokonyane gehoor nie. Die departement van behuising het intussen Vrydag gesê dat hy nog nie enige van Ferreira se mediese onkostes betaal het nie. Die hoof van die departement, Mongezi Mnyani, sê hulle moet steeds met die Ferreira-gesin ontmoet om Thomas se mediese onkostes te bespreek. Hy sê die departement sal vroeg volgende jaar met die gesin ontmoet. Die rehabilitasiesentrum waarna Ferreira vroeër oorgeskuif is, beloop glo nagenoeg R120 000 per maand.

Ferreira is op Saterdag 5 November op sy motorfiets onderweg na Randfontein deur die ampsvoertuig van die Gautengse LUR Humphrey Mmemezi raakgery. Hy is na die hospitaal geneem met onder meer ’n gebreekte arm en been, verskeie gesigfrakture en swelling en bloeding op die brein. Die bestuurder van die voertuig, Semitsi Modomai, het Mmemezi vervoer en het glo die motor se bloulig aangesit om ʼn rooi verkeerslig oor te steek toe hulle teen Ferreira gebots het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.