Bloulig-tiener se LUR koop nou glo skildery van R10 000 deur McDonald’s

Humphrey Mmemezi

Humphrey Mmemezi, Gauteng LUR vir plaaslike regering en behuising het glo sy amptelike kredietkaart gebruik om ʼn kunswerk ter waarde van R10 000 by McDonald’s te koop.

Die aanvanklike transaksie is verdoesel as ʼn aankope van R10 000 se burgers by die bekende kitskosrestaurant, het Pretoria News berig. R10 000 sal 256 Big Mac burger-etes met groot skyfies en ʼn koladrankie ten bedrae van R38-95 elk kan koop.

Volgens Independent Newspapers het Mmemezi sy amptelike FNB kredietkaart, wat deur die regering uitgereik is, in Oktober by die McDonald’s in Silverton, Pretoria gebruik. Die fondse is hierna in ʼn Nedbank-rekening wat aan die restaurant behoort, inbetaal. Die kontant is toe glo na ʼn ander Nedbank-rekening, wat aan Art Unusual behoort, oorgedra. Art Unusual is ʼn kunswerkwinkel in Pretoria.

Art Unusual se bestuurder, Alfred Addo, het glo bevestig dat Mmemezi die kunswerk op dié manier aangeskaf het, maar dat dit nie vir sy persoonlike gebruik was nie, wel vir sy kantoor. Addo het ook daarop aangedring dat die departement, en nie Mmemezi nie, hom betaal het. Volgens Addo het sy rekenmeester die besonderhede van die transaksie hanteer.

Mmemezi het glo ʼn R50 000 limiet op sy amptelike kredietkaart. Hy verdien meer as R1 miljoen per jaar en geniet ook mediesefonds-voordele en ʼn motortoelaag.

Mmemezi se kantoor het nog nie die McDonald’s uitgawe verduidelik nie.

Mmemezi se ampsvoertuig het glo in November 2011 vir Thomas Ferreira omgery. Dié saak duur steeds voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.