Blouswael op die randjie van uitwissing

Daar is net 38 broeipare van die Blouswael in Suid-Afrika oor nadat die populasie in die laaste drie jaar skerp afgeneem het. Foto: moyawatenga.co.za

Suid-Afrika se Blouswael kan binne die volgende dekade uitsterf nadat daar in die laaste drie jaar ʼn drastiese afname in die populasie van die voëlspesie was.

Die trust vir bedreigde natuurlewe (EWT) het vandag bekendgemaak dat hulle hul program vir bedreigde graslandspesies gaan aanwend om die nodige data rondom die broeipatrone van die Blouswael in te samel, asook om sy habitat te beskerm.

Volgens dr Ian Little, bestuurder van dié program, is die verwoesting van die swaeltjie se habitat die hoofoorsaak van die populasie se afname maar ander moontlike oorsake moet ook ondersoek word. Vier bekende streekpopulasies het reeds in die laaste tien jaar uitgesterf. Dit sluit die broeipare in die Kaapsehoop-omgewing, ʼn erkende Blouswael wêrelderfenisterrein, in.

Daar is tans net 38 broeipare met minder as vyf in Mpumalanga en 35 in KwaZulu-Natal. Die swaeltjie is gelys as hoogsbedreig in die Eskom Rooi Data Boek van Voëls van Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland. Die totale wêreldwye populasie van die voëltjie staan tans op ʼn duisend broeipare maar selfs hierdie getal word nou deur die Internasionale Blouswael werkgroep hersien.

Little en sy span het reeds ontdek dat die getal broeipare afneem maak nie saak hoeveel jong voëltjies by die populasie gevoeg word nie. “Ons wil bepaal wat die sterftesyfer van die swaeltjies is en daarom gebruik ons sedert November 2011 mikroskyfietegnologie om die jong voëltjies te monitor,” het Little gesê. Die span sal egter eers in die komende somerseisoen, na die swaeltjies van hul wintermigrasie terugkeer, hulle eerste data kan invorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.