Bobby van Jaarsveld en ander stap teen geweld in Kaapstad

Bobby van Jaarsveld en ander bekendes gaan op 21 November ʼn optog na die parlement hou om regeringsingryping teen geweldsmisdaad in Suid-Afrika te eis.

Volgens die burgerregte organisasie, AfriForum, gaan die parlement se Nasionale Vergadering op dié dag in sitting. Verskeie instansies, waaronder die Christian Action Network en die Family Policy Institute sal ook aan die staptog deelneem.

Hierdie aksie is ʼn opvolg op die Stap-teen-geweld-optog wat op 19 Junie na die Uniegebou in Pretoria onderneem is.

Die inisiatief is geneem in reaksie op die vlaag van geweldsmisdaad wat die land die afgelope paar jaar teister. Die doel is om ʼn duidelike boodskap aan die regering te stuur dat Suid-Afrikaners dit nie verder sal duld nie.

Volgens Van Jaarsveld reis kunstenaars regoor Suid-Afrika en hoor weekliks van mense wat hul geliefdes aan die dood afgestaan het in inbrake, motorkapings en gewapende rooftogte. Ander weer, was slagoffers van ander geweldsmisdade soos verkragting en aanranding. “Hierdie slagoffers is ons ondersteuners en ons kan nie stilsit en toekyk hoe hulle daagliks uitgelewer is aan misdaadbendes wat besig is om mense se regte en vryhede te vertrap nie,” het Van Jaarsveld gesê.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat sy organisasie betrokke is by verskeie inisiatiewe om misdaad te bekamp, maar dat die krag van sigbare protesoptrede nooit onderskat moet word nie. “Ons het reeds na die setel van die uitvoerende gesag gestap. Nou gaan ons die wetgewende gesag nader.” AfriForum onderneem hierdie inisiatief in vennootskap met Van Jaarsveld. Roets het bygevoeg dat daar na afloop van die Pretoria-staptog vroeër vanjaar verskeie versoeke vanuit die Kaap was om ʼn soortgelyke aksie daar te hou.

Alle Suid-Afrikaners word genooi om Woensdag 21 November om 9:00 by Keizersgracht (oorkant CPUT) in Kaapstad saam met AfriForum en die kunstenaars bymekaar te kom. Vandaar sal na die parlement gestap word, waar die speaker van die parlement, MV Sisulu, formeel gepetisioneer sal word. Deelnemers sal swart en wit klere dra: swart om te simboliseer dat hulle rou oor elke Suid-Afrikaner wat vermoor of deur geweldsmisdaad geraak is; en wit om te simboliseer dat daar in vrede vir vrede gestap word.

Vir meer inligting, en om vir die staptog te registreer, besoek www.afriforum.co.za/stapteengeweld.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.