Boer aan die brand gesteek

Christo saam met een van sy dogtertjies. Foto: Facebook

‘n Boer van Heilbron het tweede- en derdegraadse brandwonde opgedoen tydens ʼn plaasaanval nadat daar petrol oor hom uitgegooi en hy aan die brand gesteek is.

Christo Jansen van Rensburg (36), ʼn deeltydse boer en logistieke voorman van Clover, is Dinsdagaand omstreeks 22:00 op die plaas Pages Bargain aangeval nadat hy van die werk teruggekeer het. Christo se ma, Lena (61), het aan Maroela Media gesê dat haar seun by die grondpad na die plaashuis afgedraai het toe daar ʼn man voor hom in die pad gestaan het. Sy sê Christo het uitgeswaai en sy bakkie het voor ʼn boom tot stilstand gekom. “Daar was skielik nog ʼn aanvaller by sy venster wat hom met ʼn mes probeer steek het.” Lena sê die aanvallers het hom hierna met ʼn staalpyp oor die bors geslaan waarna hulle hom met ʼn groot klip probeer gooi het. “Hulle het hom en die bakkie vol petrol gegooi en aan die brand gesteek.” Sy sê haar seun het na die plaashuis gehardloop terwyl hy vir sy vrou, Connie, om hulp geskree het. Lena sê die aanvallers het gevlug nadat Connie die ligte aangesit het. Christo het tweede- en derdegraadse brandwonde aan sy bene, arms, en hande opgedoen. ʼn Polisiewoordvoerder, ao. Zweli Mohobeleli, het die voorval bevestig en sê die polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord. Mohobeleli sê niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.