Boer buite Potchefstroom vermoor, vrou erg aangerand

ʼn 49-jarige melkboer is Maandagoggend op sy plaas in Buffelshoek buite Potchefstroom vermoor terwyl sy vrou erg aangerand is.

ʼn Polisiewoordvoerder, brig. Thulani Ngubane, sê die boer en sy 45-jarige vrou het vroegoggend gaan koeie melk by die stal, wat sowat 70m van die plaashuis is, toe hulle deur vyf gewapende mans oorval is. Die boer en sy vrou is teruggeneem na die plaashuis. Die boer het sy aanvallers glo teengesit en is van agter in die kop geskiet. Hy is op die toneel dood. Sy vrou is vasgemaak en deur die mans aangeval. Sy is onder meer met ʼn stomp voorwerp oor die kop geslaan. Die verdagtes het in die boer se Nissan Almera gevlug. Die registrasienommer is FMC 425 NW. ʼn Familievriend het die boer se vrou gevind en die polisie ontbied. Die boer se vrou is na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Die provinsiale polisiekommissaris, lt. Gen. Zukiswa Mbombo, het haar meegevoel betuig aan die oorledene se familie. Sy sê die polisie sal nie rus voor hulle sy moordenaars vastrek nie. Die polisie wou nie die boer se naam bevestig tot al sy naasbestaandes in kennis gestel is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.