ʼn Man is Woensdag in hegtenis geneem in verband met twee plaasaanvalle in Brakfontein buite Oos-Londen in die Oos-Kaap.
Kapt. Stephen Marais, ʼn polisiewoordvoerder, sê die 24-jarige man is in hegtenis geneem nadat goedere wat gedurende Maandag en Woensdag se plaasaanvalle geroof is, in sy besit gevind is. Hy sê die polisie soek na nog ʼn verdagte. Twee mans het ʼn 58-jarige boer omstreeks 1:30 Woensdagoggend in sy plaashuis oorval en drie keer geskiet. Hulle het vuurwapens geroof en gevlug. Bobby Stevenson, DA-LP in die Oos-Kaap, het die boer as Gary Rudy geïdentifiseer. Marais sê Rudy het nadat hy geskiet is na ʼn buurplaas gery waar hy om hulp gevra het. Die verdagte het reeds op ʼn ander klag van huisroof in die Oos-Londen landdroshof verskyn. Hy is in hegtenis geneem en vuurwapens is in sy besit gevind. Die verdagte en ʼn medepligtige het glo ook Maandag ʼn vrou op ʼn plaas in dieselfde area oorval en beroof. Die verdagte sal Vrydag in die Oos-Londen landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord, huisroof, diefstal en die besit van gesteelde eiendom.