Boer en seun skok glo werker dood

ʼn Boer en sy seun van Vryburg moet Woensdag in die hof verskyn nadat hulle glo ʼn plaaswerker doodgeskok en ʼn ander werker erg aangerand het.

Brigadier Thulani Ngubane, ʼn woordvoerder van die polisie in Noordwes, sê die twee plaaswerkers van die Tosca-omgewing is Maandag na ʼn stoorkamer geroep waar die verdagtes hulle beskuldig het dat hulle twee bande en 25 liter diesel gesteel het. “Die twee werkers het die aantygings ontken waarop die boer en sy seun die mans vasgebind, aangerand en met motorkabels geskok het,” het Ngubane gesê.

Een werker is op die toneel dood en die ander ernstig beseer. Volgens Ngubane het die twee verdagtes glo probeer om ooggetuies geld aan te bied om stil te bly. Die verdagtes het egter besef een slagoffer is dood en het albei werkers na ʼn nabygeleë kliniek geneem. Die een werker is met sy aankoms dood verklaar. Die ander werker is na die Mahikeng-hospitaal oorgeplaas.

Die mans gaan in die Vryburg-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord, aanranding en die rig van ʼn vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae