Boer en seun wat plaaswerker glo doodskok, vandag weer in hof

Mathys Cloete (69) en Danie (34), sy seun, wat Maandag glo ’n plaaswerker met motorkabels doodgeskok en ʼn ander werker erg aangerand het, verskyn Donderdag weer in die hof wanneer hul borgaasoek voortgesit word.

Maroela Media het Woensdag berig dié boer en sy seun van die Tosca-omgewing, Noordwes, het gister in die Vryburg-landdroshof verskyn op aanklagtes van moord, poging tot moord, aanranding en die rig van ’n vuurwapen.

Brigadier Thulani Ngubane, ʼn woordvoerder van die polisie, het gesê twee plaaswerkers is Maandag na ʼn stoorkamer geroep waar die verdagtes hulle glo beskuldig het dat hulle twee bande en 25 liter diesel gesteel het. “Die twee werkers het die aantygings ontken waarop die boer en sy seun die mans vasgebind, aangerand en met motorkabels geskok het,” het Ngubane gesê.

Een werker is op die toneel dood en die ander ernstig beseer. Volgens Ngubane het die twee verdagtes glo probeer om ooggetuies geld aan te bied om stil te bly. Die verdagtes het egter besef een slagoffer is dood en het albei werkers na ʼn nabygeleë kliniek geneem. Die een werker is met sy aankoms dood verklaar. Die ander werker is na die Mahikeng-hospitaal oorgeplaas.

Die verdagtes se prokureur het gesê die mans gaan die bewerings teen hulle ontken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.