‘n Boer wat beskuldig word van die moord op ʼn tienerseun het Maandag vlugtig in Groblersdal landdroshof verskyn.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Ronel Otto, sê die saak teen Pieter Swart (57) is tot 13 Maart uitgestel vir verdere ondersoek. Swart word aangekla van moord en poging tot moord nadat hy glo Alzira Mbangini (14) en ʼn 17-jarige seun geskiet het toe hy hulle gevang het waar hulle op sy plaas visvang. Swart het die seuns na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar Mbangini, wat in die kop geskiet is, dood verklaar is. Hy is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. In ʼn aparte saak word Swart ook aangekla van aanranding op twee van sy plaaswerkers nadat hy glo die een geslaan het en sy honde op hulle losgelaat het.