Boer oor hoekom hy stropers se lyke verbrand

Die hooggeregshof in Pretoria het Vrydag gehoor dat ʼn boer van Noordwes “buite homself” was toe hy besluit het om die liggame van twee vermeende wilddiewe aan die brand te steek nadat sy seun hulle doodgeskiet het.

Douw de Beer (51) en sy seun Dyllan (19) het onskuldig gepleit op die moord van Morris Morua (36) en Zacharia Leso (35). Die voorval het glo op 11 April 2004 op De Beer se plaas Deo Gloria naby Brits plaasgevind. De Beer junior het erken dat hy die mans geskiet het maar beweer hy het uit selfverdediging opgetree. Sy pa het skuld erken op aanklagte van regsverydeling aangesien hy die liggame verbrand het.

De Beer senior het getuig dat sy seun die middag ʼn rooibok wou gaan skiet maar ure later in ʼn geskokte toestand by die huis opgedaag het. Hy het aan sy pa gesê daar is stropers op die plaas wat op hom geskiet het en dat hy teruggeskiet het. “Ek kon sien my seun was in ʼn toestand van skok. Hy het so gebewe hy kon nie die geweer behoorlik vashou nie. Hy het gehuil en kon nie regtig met my praat nie. Ek het besef daar is groot fout”. De Beer senior en sy seun het na die toneel gejaag. Hulle het ʼn man se lyk gevind by die heining tussen De Beer se plaas en ʼn aangrensende stuk grond.

“Ek het groot geskrik. Ek was baie ontsteld en kon nie glo wat ek sien nie. Ek het aan die persoon se nek gevoel of hy ʼn pols het, maar het onmiddellik besef hy is dood. Dyllan het weer begin huil. Hy het gesê dit is nie die persoon wat hy doodgeskiet het nie. Ek was deurmekaar. Ek het teen die heining begin afloop waar ek sowat 30 meter verder nog ʼn liggaam gekry het. Ek was buite myself. Ek het nie geweet wat om te doen nie…’n Miljoen dinge het deur my kop gegaan. Ek het besluit om skoon te maak,” het De Beer senior getuig.

De Beer senior het die lyke op sy bakkie gelaai. Nadat hy sy seun by die huis afgelaai het, het hy die liggame op ʼn stapel hout gebrand. Volgens De Beer senior het hulle eers later die aand tot die besef gekom van wat regtig gebeur het. “Ek het besef my emosies het beheer geneem van my en besef dat my seun aangeval is toe hy gaan jag het. Ek het die Here gedank dat my seun lewendig was. Ek het ook besef dat ek die polisie moes skakel aangesien al die bewyse daar was. Ek het ook besef dis te laat. Ek was baie kwaad vir myself. Ek het later uitgevind dat een van die mans twee kinders gehad het en ek was regtig jammer oor wat gebeur het”. Die saak is uitgestel tot 9 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.