Boer ry per ongeluk dogtertjie dood

Anika Kruger (1)

Martin Kruger, ʼn 37-jarige boer van Dewetsdorp, en sy vrou, Ursula (28), is platgeslaan nadat Martin Maandagmiddag per ongeluk sy 17 maandeoue dogtertjie met sy bakkie doodgery het.

Kruger, die bestuurder van die Hoffman-boerdery, het omstreeks 17:00 by die huis aangekom waar sy dogter, Anika, die heeltyd by hom was en sy aandag wou hê. Hy het haar in die huis rondgedra en haar daar gelos toe hy vinnig dorp toe moes ry. Vandaar het Anika hom onwetend na sy bakkie agtervolg.

In ʼn onderhoud met OFM het Kruger gesê hy het gekyk waar al drie sy dogters was voordat hy in sy bakkie geklim het, maar kon niemand sien nie en was onder die indruk dat hulle veilig in die huis was. Hy sê hy het skaars twee meter agteruit gery toe hy ʼn vreemde geluid gehoor het. Toe hy ondersoek instel, het hy gesien Anika lê langs die bakkie.

“Ek het uitgeklim en histeries geskreeu dat ek my dogtertjie doodgery het. My vrou het uitgekom en ook histeries geskree. Ek het probeer voel of ek ʼn pols kry, en my vrou het geskreeu dat ek haar dokter toe moet vat,” het hy aan OFM gesê.

Kruger sê sy dogters, Anserie (4) en Alusru (5), verlang reeds na hul sussie en hy is nie seker of hulle regtig verstaan wat gebeur het nie. “Ons twee kinders en familie is al wat ons nou dra, hulle sê dit was ʼn ongeluk. Anserie vra die heeltyd wanneer ons vir Anika by Liewe Jesus kan gaan haal, en Alusru bly vir haar sê ‘toemaar sy is nou by ʼn beter plek’.”

Die polisie ondersoek die voorval.

Bron: OFM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Stoere Boer ·

Sterkte aan die familie. Dit gaan nie maklik wees om dit te verwerk nie maar julle is in ons gebede. Dalk moet hulle die kameras verpligtend in alle voertuie maak wat wys wat agter ‘n voertuig is want dit kon haar lewe gered het.

Trudie ·

Ai, ai ai wat ‘n bittere seer storie. Wat sê mens aan die ouers? Die plekkie is leeg. Mag die Here julle omvou met Sy liefde en Genade.

JAVR ·

Ag liewe Vader!!! Dis verskriklik onstellend. Ek het baie jare terug my hondjie doodgery en tot vandag (13jaar later) voel ek nog die hartseer, verwyt en skuldige gevoel as ek aan haar dink so ek wil nie weet wat in hierdie arme man se lewe gaan gebeur as gevolg van die voorval nie! Ek bid vir hulle en veral vir hom want hy het elke gebed nodig wat na sy kant toe kan kom! Ai simpatie vir julle!

Willy ·

Geen woord kan weggelaat of bygevoeg word wat jy sê JAVR. Dit is net een tragiese geval die.

sylvia ·

my hart bloei vir die familie n ongeluk is n ongeluk vandag moet n mens so versigtig wees veral met die klein goed wat orals rond beweeg. ek dink aan die gesin

Jasper ·

Ek het nie woorde nie. Mag die familie Sy krag ontvang in hierdie tyd.

Amy ·

Mag God die familie deurdra deur die verskriklike tyd. Mag hul berusting vind. En ek hoop die pa sal homself kan vergewe, want dit was net ‘n ongeluk gewees. Hulle is in my gebede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.