Boer se weduwee dagvaar polisie vir R4 miljoen

Die weduwee van ʼn boer van KwaZulu-Natal wat glo in Januarie tydens ʼn skietgeveg met die polisie doodgeskiet is, eis meer as R4 miljoen van die polisie.

Kobus de Vries (54) van Babanango is glo op 20 Januarie deur ʼn groep polisielede oorval en doodgeskiet. Volgens die Independent Online dagvaar De Vries se weduwee, Rentia, die minster van polisie vir R 4 008 000. De Vries se regsverteenwoordiger, Carel Taute, sê die eis is vir ʼn verlies aan inkomste. Die polisie het destyds gesê dat De Vries doodgeskiet is nadat hy eerste op die polisie geskiet het. De Vries se familie het dit egter betwis. De Vries se broer, Thinus, het destyds aan Beeld gesê sy broer was glo in ʼn onderonsie met Eskom werkers en polisielede betrokke. Hy het glo sy werknemers beveel om die plaas se hekke te sluit en om die polisie sy erf te belet. Daar het glo nagenoeg 40 polisielede opgedaag en die huis omsingel. Die polisie het glo op De Vries losgebrand en volgens sy familie is hy noodlottig in die rug gewond toe hy probeer het om die huis in te hardloop. Die polisie-waghond, die Onafhanklike Klagtedirektoraat, het destyds bevind die polisie se optrede was geregverdig. Die kantoor van die staatsadvokaat het 20 dae om op die aansoek te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.