Boer Soek ‘n Vrou kry nuwe aanbieder

Nadia Beukes

Nadia Beukes

Die gewilde program op kykNET, Boer Soek ʼn Vrou, spog vanjaar met ʼn nuwe aanbieder.

Nadia Beukes, die sprankelende dogter van Rouel Beukes, sal vanjaar die leisels by Angelique Gerber oorneem.

Volgens Maryke Allers, die program se media bestuurder, het Gerber vir die afgelope drie jaar die Boer Soek ‘n Vrou-reeks tot nuwe hoogtes gelei met kykergetalle wat in die sesde seisoen op sy hoogste ooit was. “Gerber het egter besluit om te fokus op haar nuwe modereeks en ander projekte waarby sy hierdie jaar betrokke is,” het Allers gesê.

Volgens Gerber was dit vir haar ʼn baie moeilike besluit, veral omdat sy so lief geraak het vir die hele span oor die afgelope paar jaar. “Ek is ongelooflik dankbaar vir my ervaring by Boer Soek ‘n Vrou en veral die publiek wat my, en die hele span, met elke episode ondersteun het,” het Gerber gesê. “Hierdie was die regte tyd om aan te beweeg en ek wens Nadia net die beste toe. Met haar passie is die kykers, en die boere, in bekwaamde hande.”

“Ek dink sy het verlede jaar die beste jaar ooit op Boer gehad en dat sy met haar kop omhoog kan aanbeweeg met haar loopbaan. Ons sal haar baie mis, maar sien ook uit daarna om met Nadia te begin werk,” sê Elmarie Botha, vervaardiger van Boer Soek ‘n Vrou.

Beukes loop al ‘n lang pad saam met kykNET, wat begin het toe sy ‘n finalis in kykNET se eerste ZING-sangkompetisie was, vanwaar sy toe as kontinuïteitsaanbieder op kykNET begin het. Sy was ook te sien as aanbieder vir verskeie programme o.a. EkoNET, Dekor, Thirp en tans Tuine en Tossels. As aktrise was Nadia deel van Villa Rosa, Binneland en Hartland op kykNET. Sy was dus die natuurlike keuse vir kykNET as die volgende Boer Soek ‘n Vrou aanbieder, aldus Allers.

“Om deel te mag wees van die Boer Soek ‘n Vrou-span vir 2014 is beslis een van dié opwindendste avonture in my lewe en loopbaan. Ek kan nie wag om hierdie avontuur met al die boere, dames en kykers te deel nie en is dankbaar vir die geleentheid om as aanbieder deel van die span te mag wees,” het Beukes oor haar nuwe rol gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eben ·

Mmmm maar die hel weet Angelique was sag op die oge. Sterkte Angelique en moenie wegraak. :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.