Frits Myburgh, ʼn boer van Kareedouw in die Oos-Kaap, word vermis nadat sy motor Dinsdagaand van ʼn laagwaterbrug deur vloedwater meegesleur is.
Myburgh en sy vrou, Poppie, het omstreeks 20:00 Dinsdagaand die Kouga-brug buite Kareedouw probeer oorsteek toe hulle voertuig meegesleur is. Lt. kol. Priscilla Naidu, ʼn polisiewoordvoerder, sê Poppie kon daarin slaag om uit die venster van die motor te klim en aan ʼn rots sowat 100 m stroom af vas te klou. “Dit was die laaste keer wat sy haar man of die motor gesien het.” Poppie is omstreeks 13:00 Woensdagmiddag gevind nadat verbygangers die polisie in kennis gestel het. Die polisie het onmiddellik ʼn soektog van stapel gestuur na Myburgh. Die soektog is egter laat Woensdagmiddag afgelas weens die weerstoestande. Poppie is na ʼn hospitaal geneem en is later in die sorg van haar dogter ontslaan. Die soektog na Myburgh sal Donderdag voortduur.