Boere gevra om kieserregistrasie te ondersteun – Agri SA

IEC+logoAgri SA het versoek dat alle boere en werkers dié naweek moet registreer vir die komende verkiesing.

“Die proses om kiesers te registreer sal tydens die komende naweek voortgesit word. Ek doen ‘n beroep op boere om hul ondersteuning in dié verband te gee”, sê Johannes Möller, president van Agri SA.

“Die grootste moontlike deelname aan verkiesings is ‘n voorvereiste vir die doeltreffende funksionering van ‘n demokratiese samelewing. Dit geld ook vir landelike bewoners en die groot getal mense wat op plase woon en werk. Met inagneming van hul unieke omstandighede, het boere ‘n spesiale verantwoordelikheid om hierdie gemeenskappe se deelname aan die verkiesing te ondersteun”, sê Möller.

Agri SA het die Verkiesingskommissie (OVK) genader vir ‘n sektorooreenkoms met betrekking tot die verkiesingsproses. Dit het onlangs tot ‘n geleentheid gelei waartydens rolspelers in die sektor ‘n onderneming onderteken het met die oog daarop om samewerking in hierdie verband te vergemaklik. Die onderneming maak voorsiening vir die volgende:

– Redelike toegang vir die Verkiesingskommissie en sy agente na gebiede vir die doel van hul werk, in besonder die registrasie en onderrig van kiesers.
– Dat kiesers politieke byeenkomste by openbare geriewe bywoon vir werwingsdoeleindes deur politieke partye.
– Redelike toegang tot die Verkiesingskommissie en sy agente om waar toepaslik, aangewese plekke as registrasie en stemlokale te gebruik.
– Gee kiesers tyd af om te registreer en te stem.
– Verseker dat besoeke aan plase plaasvind in ooreenstemming met die protokol vir toegang tot plase.

Pres. Jacob Zuma het Vrydag gesê die verkiesing sal op 7 Mei 2014 plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.