Boere glo betrokke by leeusmokkelary

Argieffoto

Sommige boere wat met leeus teel is glo deel van ʼn onwettige smokkelnetwerk om leeu- en jagluiperdwelpies van Botswana na plaaslike wildplase te smokkel.

The Times het Maandag berig ten minste vyf Suid-Afrikaanse boere se name word in ʼn verslag genoem na ondersoek ingestel is oor leeuwelpies wat die land ingesmokkel word vir geblikte leeujag-doeleindes. Daar is ʼn groot internasionale belangstelling vir leeus in die trofeejagmark.

“Nie alle boere wat met leeus teel is hierby betrokke nie, maar daar is beslis vyf of ses waarvan ek bewus is,” het Sarel van der Merwe, voorsitter van die African Lion Working Group, aan die koerant gesê.

“Beamptes van die Problem Animal Control Group in Botswana, ʼn beheerliggaam van die land wat problematiese roofdiere moet hanteer, het almal selfone. In plaas daarvan om probleemdiere by hul hoofde aan te meld, bel hulle Suid-Afrikaanse boere. As die probleemdier ʼn leeuwyfie is, sal sy geskiet word en haar welpies in die land ingesmokkel word,” het Van der Merwe gesê.

Paul Ramaloko, ʼn woordvoerder van die Valke, kon nie bevestig of sake van diere wat oor grense gesmokkel word, ondersoek word nie.

Volgens The Times is geblikte leeujag in 2007 in Suid-Afrika verban. Die Suid-Afrikaanse Roofdiertelersvereniging het teen dié besluit geappelleer en in 2011 hul saak in die appèlhof gewen.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Behoort die opskrif nie eerder te lui: “Leeutelers glo betrokke by leeusmokkelary” nie, eerder as “boere”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.