Boere het hul hande vol met veldbrande

Sowat twintig veldbrande binne drie dae naby Modimolle, Limpopo, laat die vermoede bestaan dat daar ʼn slang in die gras is. ʼn Gemeenskap wat saam staan het egter gesorg dat die brande suksesvol bestry kon word.

Edwin Leemans, wat in Brits bly, maar ʼn plaas in die omgewing het, het Maandag aan Maroela Media gesê dit was vir hom ongelooflik om te sien hoe die gemeenskap saam staan en hande vat. “ʼn Veldbrand het verlede week Woensdag om 11:50 by Elandsfontein uitgebreek. Die rook kon kilometers ver vanaf Donkerpoort gesien word,” het hy gesê.

Sterk winde en lang gras het veroorsaak dat die brand vinnig kilometers ver versprei het.

“Nagenoeg 30 lede van die gemeenskap het bymekaar gekom vanwaar ons in groepe verdeel het om voorbrande by verskeie sleutelpunte te gaan doen. Te danke aan al die helde se samewerking is die dreigende krisis gou afgeweer en was die brand om 15:45 geblus,” het Leemans gesê.

Die gemeenskap moes egter Vrydagaand weer behoorlik bontstaan toe ʼn vlaag van 19 brande langs die Donkerpoort- en Vaalwaterpad uitgebreek het. Dieselfde brandbestrydingspogings is gevolg en dit het vrywilligers van middernag tot omstreeks 04:00 Saterdagoggend wakker gehou. Boere van die omgewing het gesê dit is nie sporadiese brande nie en hulle vermoed dit is moedswillige brandstigting. Die brande is op sleutelpunte begin deur gras in bondels te draai en dit aan die brand gesteek.

Die polisie ondersoek die voorvalle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.