Boere kry borg na beweerde aanranding

Twee boere wat daarvan aangekla word dat hulle vier vermeende brandstigters aangerand het, het vlugtig in die landdroshof op Schweizer-Reneke verskyn.

Volgens ʼn polisiewoordvoerder, brig. Thulani Ngubane, is die saak teen Attie Haasbroek (58) en Herman Lochrenberg (63) op borgtog van R5 000 elk vrygelaat en is die saak tot 15 September uitgestel vir verdere ondersoek. ʼn Polisiewoordvoerder in Noordwes, kapt. Aafje Bothma, het vroeër vandag gesê daar is na bewering Saterdag ʼn brand gestig in die gebied. Bothma sê dit is nie seker wie die brand gestig het nie. Een van die boere het na bewering ʼn motor sien wegry van die gebied waar die brand gestig is en dit agternagesit. Volgens die polisie het die boer die vier insittendes van die motor daarvan beskuldig dat hulle die brand gestig het en glo ʼn skoot op hulle voertuig afgevuur. Nog ʼn boer het glo verby gery en aangesluit by die geveg wat tussen die ander boer en die insittendes uitgebreek het. Die vier insittendes is in die voorval beseer en in die hospitaal opgeneem. Een van die boere beweer hy het ʼn bekentenis van die vier insittendes dat hulle die veld aan die brand gesteek het. Die een boer is Saterdag na die voorval in hegtenis geneem terwyl die ander boer Sondagoggend in hegtenis geneem is. Ontstoke inwoners van Amalia het Sondag die pad afgesper en weer die veld aan die brand gesteek glo in protes teen die beweerde aanrandings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.