Boere staan saam om plaasaanvallers te vang

Boere, plaaswerkers, veiligheidsmaatskappye, sakemanne en die Noordwes-polisie het kragte saamgesnoer en ses vermeende plaasaanvallers aangekeer.

Die rolspelers het Donderdag vier van die verdagtes in hegtenis geneem, skaars twee ure nadat ʼn vrou in ʼn plaaswinkel naby Mafikeng oorval is, berig Beeld.

Kotie du Toit is die oggend deur vier mans in die winkel aangeval. Hulle het al die geld uit die kasregister gesteel waarna hulle haar na haar huis vergesel het. Daar het hulle haar vasgebind en op die kluis se sleutels aangedring. “Hulle het ʼn vuurwapen teen my kop gehou. Ek het die heeltyd hardop gebid. God was daar. Een van die rowers het my hare gevryf en gesê: ‘Sorry Ouma’,” het Du Toit gesê.

Die mans het gevlug waarna Du Toit haarself losgemaak en hulp ontbied het. Die rolspelers het die gebied, sowat 500 hektaar, met hul voertuie afgesper.

“Plaaswerkers is elke 50 meter afgelaai, sodat hulle mekaar kon sien en alarm kon maak as hulle die verdagtes opmerk,” het Wynand Buys, ʼn boer, gesê.

Twee van die verdagtes is opgespoor toe hulle ʼn pad oorgesteek het en ʼn plaaswerker het ʼn derde verdagte in die veld sien wegkruip. Uiteindelik het al vier verdagtes hulself oorgegee en is hulle in hegtenis geneem. Du Toit se gesteelde besittings is in twee sakke in die veld gevind.

In ʼn afsonderlike voorval het die rolspelers Sondag twee diewe op heterdaad betrap toe hulle ʼn plaashuis beroof het.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rena Brown ·

Dis wonderlike nuus! Gee die barbare van hul eie medisyne terug! Iemand moet iet aan die situasie doen, want die regering het tred verloor met die misdaad.

Flash ·

Wonderlike nuus! Probleem is more is die vloeke weer op straat en moor en steel weer! Hulle leer juis in die tronk beter tegnieke. Gewapende roof was altyd ‘n halsmisdaad en moet weer ingestel word. Ons moet maar onafhanklikheid verklaar, ons eie howe en grondwety opstel, ons howe gebruik en dan: Hang die vloeke

Juan ·

Pragtig, ek glo aan ‘n breër samewerkings ooreenkom en meer magte en beskerming.

Jan Serfontein ·

Mooi en baie geluk, so werk dit as n boer betrokke raak!

H J Bester ·

Dit blyk dat goeie samewerking tussen boere, plaaswerkers, besigheidsmanne en wetstoepassers ontstaan het om misdaad vas te vat.

In die dorp waar ek woon, het daar ‘n buurtwag op dieselfde grondslag ontstaan en is misdaad en inbraak tot sy ‘n mate bestry dat dit bykans nie meer bestaan nie.

Samewerking tussen verskillende partye is die enigste manier om misdaad te bekamp en kan, by uitbreiding van dié tendens, grootliks bydra om dié euwel totaal uit te wis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.