Boere wat ‘stroper’ aankeer kry borg

Die drie boere van Limpopo wat vir poging tot moord in hegtenis geneem is nadat hulle ʼn vermeende renosterstroper aangekeer het, is Donderdag op borgtog van R3 000 elk vrygelaat.

Kol. Ronel Otto, ʼn polisiewoordvoerder, het Donderdag aan Maroela Media gesê die drie boere, PP Mare, Chris Naude en Johannes van Zyl, het in die Phalaborwa-landdroshof verskyn.

“Hulle word aangekla van poging tot moord nadat hulle glo ʼn man, volgens hulle ʼn renosterstroper, ernstig op ʼn plaas in die Gravelotte-omgewing aangerand het,” het Otto gesê.

Volgens Otto het die Gravelotte-polisie inligting ontvang dat ʼn renosterstroper, met renosterhorings in sy besit, op die plaas vasgetrek is.

“Die polisie is na die toneel, maar is aanvanklik toegang tot die plaas geweier. Die beamptes is terug na die polisiestasie waarna hulle weer na die toneel ontbied is. Dié keer het hulle toegang deur ʼn ander hek op die plaas bekom,” het Otto gesê.

Die polisie het die drie boere by die vermeende stroper aangetref. Die man was op die agterkant van ʼn voertuig en sy hande en voete was vasgebind. Hy het ʼn ernstige kopwond opgedoen. “Met verdere ondersoek kon die polisie geen renoster-karkas of renosterhorings, soos wat die verdagtes aanvanklik beweer het, op die plaas vind nie. Daar was ook geen toerusting om ʼn renoster te skiet of te onthoring in die man se besit gevind nie. Die drie verdagtes is daarvolgens in hegtenis geneem en aangekla van poging tot moord,” het Otto bygevoeg.

ʼn Saak van onregmatige betreding is teen die beseerde man, wat ʼn plaaslike inwoner is, oopgemaak. Hy is na die Maphutha-hospitaal geneem waar hy steeds behandel word.

Die boere se saak is uitgestel tot 19 Junie vir verdere ondersoek. Hulle moet dan in die Gravelotte-periodieke hof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Aldo Rech, die mans se prokureur, het ontken dat die boere die verdagte aangerand het. Hy het ook gesê dat toerusting om ʼn renoster te onthoring in die man se besit gevind is. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.