Boeremag-arsenaal opgespoor

'n Paar van die Boeremaglede op 19 Mei 2003 tydens die hofsaak Foto: Shayne Robinson/SAPA

‘n Paar van die Boeremaglede op 19 Mei 2003 tydens die hofsaak Foto: Shayne Robinson/SAPA

“Inligting wat verband hou met die arsenaal is tydens die laaste gedeelte van die Boeremag-verhoor in die Pretoriase hooggeregshof bekend gemaak,” het kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, gesê. “’n Intensiewe ondersoek, wat ‘n paar maande lank geduur het, het verlede Donderdag vrug afgewerp toe die span die vuurwapens opgespoor het.”

Die vuurwapens is op ‘n plaas in Middelburg in Mpumalanga opgespoor.

Daar is beslag gelê op drie 20mm-kanonvaatjies, ‘n slagpen, ‘n driepootstaander vir ‘n kanon, vier 20mm-rondes ammunisie, vyf 500ml koeldrankbottels met 7.62 ammunisie, drie 500ml koeldrankbottels met .22-ammunisie, drie 37mm-rondes en ‘n CS-granaat.

“Niemand is op die plaas, waar die vuurwapens opgespoor is, in hegtenis geneem nie, aangesien daar geen woonhuis op die perseel is nie, buiten ‘n huis wat vir oornag staproetes gebruik word. Herman van Rooyen en Rudi Gouws, lede van die bomeenheid, het glo die vuurwapens tydens hul eerste ontsnapping in 2005 weggesteek.”

Die ondersoek duur voort.

Die Pretoriase hooggeregshof het die Boeremaglede op 29 Oktober 2013 elk tussen vyf en 30 jaar tronkstraf opgelê. Tom Vorster, leier van die Boeremag, en sommige lede van sy bomeenheid wat in 2002 verskeie teikens opgeblaas het, is elk effektief tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Bomplanters Van Rooyen, Johan en Wilhelm Pretorius en Gouws is ook elk effektief tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Die derde Pretorius-broer, Kobus Pretorius, is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis waarvan 10 jaar opgeskort is, aangesien hy tydens die hofsaak berou getoon het oor sy dade.

Die lede van die bomeenheid is elk ook ‘n verdere 13 jaar tronkstraf opgelê op aanklag van strafbare manslag en sameswering om oud-president Nelson Mandela te vermoor.

Die Boeremag-lede Mike du Toit, Dirk Hanekom en die Pretorius-broers se pa, dr. Lets Pretorius, is elk tot 30 jaar tronkstraf gevonnis waarvan 10 jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.

Mike du Toit se regterhand, André du Toit en Dion van den Heever, is elk tot 20 jaar tronkstraf gevonnis waarvan 10 jaar opgeskort is.

Rooikoos du Plessis en Jurie Vermeulen, wat elk ook ‘n belangrike rol in die komplot gespeel het, is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis waarvan 10 jaar opgeskort is.

Een van die Boeremag se mees aktiewe lede en die kapelaan vir die Boeremag, Vis Visagie (74), is tot vyf jaar korrektiewe toesig gevonnis.

Vyf van die Boeremag-lede wat ‘n kleiner rol gespeel het, Adriaan van Wyk en voormalige weermagoffisiere Giel Burger, Jacques Olivier en Pieter van Deventer, insluitend die jongste lid, Jacques Jordaan, het as vry mans uit die hof gestap met opgeskorte vonnisse. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marie ·

Kan ons nou asseblief n slag wapens kry?????? Dit gaan al slegter in die land, ons moet onsself verdedig!!!!! Sommer van daai wat so by die polisiestasies uitgedeel word, ingesmokkel word, geroof word. Wanneer mag ons kom afhaal ?????

chris ·

Ja nee Tom . Die sensasie is einlik belaglik,ek wonder wat hulle die magasyn van die gemiddelde weermagkamp noem, seker ‘n nuwe woord uitdink, of dalk wapens van massa vernietiging?
Belaglik1

Andreas Meyer ·

Hoekom nie “*beweerde* Boeremag-arsenaal opgespoor”? Dis slegs ‘n bewering deur “staatsorgane” en hierdie “organe” is bekend dat hulle “bewyse” plant.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.