Boeremag: Bomplanter skuldig

Herman van Rooyen net nadat hy op 30 Mei 2011 ná 'n mislukte ontsnappingspoging aangekeer is Foto: Alet Pretorius, Beeld

Herman van Rooyen, ‘n verdagte in die Boeremag-saak, is Woensdag aan hoogverraad skuldig bevind.

Van Rooyen, ‘n boer van Bela Bela, was die Boeremag se militêre bevelvoerder in Limpopo en het laat in 2002 ‘n bomplantingsveldtog gelei in ‘n poging om ‘n rasse-oorlog in Suid-Afrika te begin. Hy was deel van ‘n groep verdagtes wat voormalige president Nelson Mandela in Oktober 2009 met ‘n bom naby Bolobedu in Limpopo wou vermoor. Die bom is langs ‘n pad geplant waar hulle gehoop het Mandela, onderweg om ‘n skool te open, sou reis. Hy het dié dag egter met ‘n helikopter gereis. Van Rooyen het ook bomme by die polisie se lugvleuel by Grand Central Airport, ‘n brug in Port Edward, en ‘n treinspoor in Soweto geplant. Onder sy leierskap is verskeie bomme op dieselfde tyd op 29 Oktober 2002 in Soweto ontplof. Claudia Mamatsieng Mokone is dood toe ‘n stuk staal haar huis, naby die spoorwegontploffing, getref het. Volgens getuies was Van Rooyen en sy groep baie tevrede oor die “sukses” van hul bomplantingsveldtog in Soweto, en het hulle gelag toe hulle op televisie gesien het dat ‘n vrou gesterf het.

Van Rooyen was ook betrokke by planne om mede-Boeremaglede uit die tronk te laat ontsnap en polisiebeamptes en aanklaers in die ondersoek teen die verdagtes te vermoor. Planne om die ondersoekbeampte in die saak, superintendent Tollie Vreugdenburg, te vermoor is glo laat vaar, aangesien hy gewild was, talle plaasmoorde opgelos het en hy ‘n “baie mooi dogter” gehad het.

Van Rooyen is die 15e lid om aan hoogverraad skuldig bevind te word.
Regter Eben Jordaan se uitspraak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.