Boeremag-dokter sê hy sal sterf in die tronk

Dr. Lets en Minnie Pretorius Foto: IOL

Dr. Lets en Minnie Pretorius Foto: IOL

Dr. Lets Pretorius, mediese dokter en lid van die Boeremag wat tronkstraf opgelê is vir hoogverraad, het Vrydag aan die Pretoriase hooggeregshof gesê hy is oortuig hy sal in die tronk sterf omdat hy ʼn wit politieke gevangene is.

Pretorius het getuig in sy aansoek om borgtog hangende ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan hoogverraad en gevolglike 30 jaar tronkstraf waarvan 10 jaar opgeskort is.

Sy seuns, Johan, Kobus en Wilhelm, is onder die 19 Boeremag-lede wat tussen 10 en 48 jaar tronkstraf opgelê is nadat hulle saamgesweer het om die ANC-regering in die vroeë 2000s omver te werp.

“ʼn Vonnis van 20 jaar is eintlik ʼn doodsvonnis vir my,” het Pretorius aan die hof gesê. “Ek is 67 jaar oud en ek sal 87 jaar oud wees wanneer ek 20 jaar uitgedien het. Die kans is goed dat nie ek of my vrou dan meer sal leef nie. Ek het eerlikwaar nooit so ʼn swaar vonnis verwag nie en het nie langtermynvoorsiening gemaak vir my vrou se versorging nie.”

“Ek besef die argument kan gemaak word dat ek skuldig bevind is aan gewelddadige misdaad, maar ek is ʼn politieke gevangene en ek is ook wit. As ek sien en hoor wat met ander wit politieke gevangenes gebeur… Ek besef as vyand van die staat is my kans baie klein om op parool vrygelaat te word.”

Pretorius, wat vir nege jaar lank op borgtog vrygelaat is voordat hy vroeër vandeesweek gevonnis is, het getuig dat hy nog altyd aan sy borgtogvoorwaardes voldoen het en geen planne het om te vlug nie.

Hy het sy winsgewende privaatpraktyk en plaas verloor toe hy in hegtenis geneem is en hy het daarna na Pretoria verhuis. Hy het egter die afgelope dekade steeds as ʼn mediese dokter gepraktiseer en ander dokters bygestaan. Hy het in ongevalle sale by hospitale gewerk en het ook werk gedoen vir die Padongelukkefonds.

“Ek kan nie sien hoe ek as ʼn gevaar vir die samelewing beskou kan word nie. Ek het my lewe daaraan toegewei om ander mense te help.”

Pretorius sê hy is sy vrou Minnie se persoonlike dokter, psigiater en sielsgenoot. Hy het haar deur borskanker en depressie versorg en ook as ʼn surrogaat-oupa opgetree vir sy kleinkinders.

Volgens Pretorius het sy vrou sy vonnis as ʼn erge skok beleef en vaar sy emosioneel nie goed nie. Sy eie gesondheid is ook nie goed nie en hy moet rug- en hartoperasies ondergaan. Daar moet ook aan sy tande gewerk word. Sy rugprobleme is glo as gevolg van ʼn besering wat hy opgedoen het terwyl hy in aanhouding was.

Pretorius sê hy en sy seuns Johan en Wilhelm is boesemvriende en die moeilikste vir hom was toe sy seun Kobus alle bande met sy gesin verbreek het weens “invloede van buite”.

Hy sê alhoewel die R500 000 borgtog in die naam van ʼn eiendomsmaatskappy is waarin hy nie meer ʼn belang het nie, het sy familietrust steeds ʼn belang in die besigheid en sal dit nadelig wees indien hy vlug.

Pretorius sê hy wou sy advokaat gehelp het om voor te berei vir die appèl en moet ook fondse insamel vir ʼn appèlaansoek, aangesien dit onduidelik is of regshulp sy appèlaansoek sal finansier.

“Ek is van raad bedien dat ek ʼn kans het indien ek appèl aanteken. Ek dink dit sal dom wees as ek selfs net oorweeg om te vlug of nie aan my borgtogvoorwaardes voldoen nie.”

Pieter Luyt, vir die Staat, het aangevoer dat Pretorius ʼn vlugrisiko is, weens die lang gevangenisstraf wat hy opgelê is. “Daar is geen redelike vooruitsig van sukses op appèl nie en dit is hoogs onwaarskynlik dat ʼn ander hof ʼn ander vonnis sal oplê. Deur sy misdade en sy gedrag het hy [Pretorius] duidelik bewys dat hy ʼn gevaar is vir die samelewing,” het Luyt gesê.

Regter Eben Jordaan sal Woensdag uitspraak lewer in die aansoek om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

petro van rooyen ·

Hy het nooit so straf verdien in die eerste plek nie!!!!! Nie eens moordenaars word so n straf opgele in SA nie?!!!

petro van rooyen ·

Nie een van hierdie manne verdien die belaglike swaar straf nie! In SA loop moordenaars vry rond…..of hulle is mos jammerlike gevalle van weeskinders of een of ander derglike verskoning…..ek dink ons manne het reeds te lank gesit hul straf is uitgedien in my oe,eintlik moes hul nooit eens gestraf geword het nie hul geveg was n stryd in hul geloof,liefde en hoop vir n toekoms vir n vry-boere-volk…..die stryd gaan nou maar eers begin!!!!

Demokraat ·

Petro, al wat jy aanvanklik vir jouself baie duidelik moet uitklaar is die wyse van die stryd wat jy nou gaan begin voer. As dit binne alle redelike perke is asook binne die wette van die land gaan plaasvind, ondersteun ek jou van harte. Laat weet ons hoe jou plan daar gaan uitsien.

Demokraat ·

Petro, al wat jy aanvanklik vir jouself baie duidelik moet uitklaar is die wyse van die stryd wat jy nou gaan begin voer. As dit binne alle redelike perke is asook binne die wette van die land gaan plaasvind, ondersteun ek jou van harte. Laat weet ons hoe jou aksieplan vir die stryd daar gaan uitsien.

Marnie ·

Oom Lets verdien beslis nie hierdie geweldige straf nie. Hy is ‘n man van inbors en sal nie vlug nie. Hulle is almal reeds genoeg en onnodig lank gestraf. Ek hoop en bid die regter doen die regte ding en staan oom Lets se aansoek toe. Sterkte Oom Lets en tannie Minnie

Annie ·

Ridiculous… !!! Moordenaars sit nie eens so lank nie? Rapist? Hulle kom weg met 5 jaar?
Wat gaan aan met die regstelsel? Regtig gedink dit is slim mense…?

Gideon Erasmus ·

Ek is nogsteeds verstom vir die straf. Wat het hulle nou so vreeslik gedoen om die Staat te skaad. Doen politici nie meer skade aan staat as hulle dom uitsprake maak voor massas mense of al hierdie stakings wat daagliks plaasvind en buitelandse beleggers die skrik op die lyf jaag nie.

Angelus ·

Nee ah Eben, het jy aan die slaap geraak! Hierdie mense het net gedink en nie gedoen nie – net die teenoorgestelde van Robert Macbride!!!!! Hoe de f#k! POLITIEK?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.