Boeremag-getuies kry nie vrywaring nie

Regter Eben Jordaan

Regter Eben Jordaan

Twee Boeremag-medepligtiges, wat vir die staat getuig het in die lang verhoor oor hoogverraad, se vrywaring om vervolging is deur die Pretoriase hooggeregshof geweier.

Regter Eben Jordaan het Dinsdag vonnisse van vyf tot 48 jaar tronkstraf opgelê vir 19 lede van die Boeremag wat aan hoogverraad skuldig bevind is. Die klagtes strek van ‘n verregse sameswering in die vroeë 2000s om die ANC-regering deur ‘n gewelddadige staatsgreep omver te gooi.

Bykans 160 getuies het vir die Staat getuig deur die verloop van die hofsaak, insluitend verskeie medepligtiges wat as staatsgetuies opgetree het ná hul inhegtenisneming in ruil vir moontlike vrywaring van vervolging kragtens artikel 204 van die Strafproseswet.

Meeste van die getuies het volle vrywaring ontvang, en Jordaan het gesê hy is tevrede dat almal, buiten twee lede, die vrae openhartig en eerlik beantwoord het. Hy sê artikel 204 het ‘n spesifieke doel en die hele proses sou in die wiele gery word indien diegene, wat nie by die reëls hou nie, te lig behandel word. “’n 204-getuie moet weet dat hy in die moeilikheid gaan beland indien hy nonsens praat in die hof,” het Jordaan gesê.

Hy het vrywaring geweier aan Blackie Swartz, wat betrokke was by die huur van motors wat deur die Boeremag bestem was om op 13 Desember 2002 in die middestad van onderskeidelik Pretoria en Johannesburg vyf massiewe motorbomme te laat afgaan. Jordaan sê hy het sy weergawe van die gebeure tydens sy kruisverhoor afgewater. Dit is nie ‘n kwessie van ‘n swak geheue nie, maar oneerlikheid.

Jordaan het ook vrywaring geweier aan Johannes van Dyk Sr., ‘n 72-jarige boer van Delmas, wat aan die hof gesê het hy weet niks van die Boeremag-plofstof wat in ‘n stadium op sy plaas gestoor is nie. Sy seun, Johannes van Dyk Jr., wat erken dat hy die plofstof gestoor het, het volle vrywaring ontvang. Die Boeremag se “bomeenheid” het die plofstof na die Van Dyks se plaas toe geneem nadat ‘n buurman nie sy hek vir hulle wou oopmaak nie.

Jordaan het egter bygevoeg dat hy verras sal wees indien die staat sou probeer om Swartz of Van Dyk Sr. weer terug te kry in die hof, maar dit is nie die toets vir vrywaring nie.

Onder die getuies wat wel vrywaring toegestaan is, sluit selferkende bomplanter Deon Crous in. Hy was saam met Herman van Rooyen op pad na Pretoria met ‘n motorbom wat vir Marabastad bedoel was toe hulle in 2002 in hegtenis geneem is. Crous het getuig dat hy Kobus Pretorius en Jacques Jordaan bygestaan het om groot hoeveelhede plofstof te vervaardig wat verdeel is in vyf motorbomme. Hy het aan die hof gesê hy en die Boeremag se bomeenheid het besluit om voormalige president Nelson Mandela met ‘n tuisgemaakte landmyn op te blaas nadat hulle in ‘n koerant gesien het hy gaan ‘n skool naby Tzaneen in Limpopo open. Die bom is in die pad geplant, en hulle sou dit detoneer sodra hulle Mandela se motor sien, maar hul planne is in die wiele gery toe hy met ‘n helikopter opgedaag het.

Henk van Zyl, ‘n boer van die Vrystaat, en Lourens du Plessis, ‘n welgestelde boer van Thabazimbi, se vrywaring is ook toegestaan. Van Zyl het erken dat hy buisbomme vir die Boeremag vervaardig het, en Du Plessis het erken dat hy geld aan die Boeremag gegee het om toerusting aan te skaf om geld mee te vervals.

Dr. Lets Pretorius, mediese dokter, wat tot 20 jaar tronkstraf gevonnis is, sal Vrydag aansoek doen om borgtog hangende ‘n appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis.

Lees ook:
Boeremag-lid groet op Facebook
Hof lewer Boeremag-vonnis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leslie ·

mcbride het mense dood gemaak, die Boeremag het niks gedoen behalve beplan
mag ek beplan om op vakansie te gaan?

Stoere Boer ·

Jy kan nie die regering se meelopers vertrou nie. Hulle soek nog mense om voorbeelde van te maak. Les een: Moenie teen jou eie mense draai nie die blinde sambok slaan hard.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.