Boeremag-lid groet op Facebook

Wilhelm Pretorius Foto: Facebook

Wilhelm Pretorius Foto: Facebook

Wilhelm Pretorius, die veroordeelde Boeremag-lid het ure voordat hy tot 25 jaar tronkstraf gevonnis is, uit die gevangenis in Pretoria sy vriende en aanhangers op Facebook gegroet, het Beeld Donderdag berig.

“Vaarwel my liewe vriende en volksgenote,” het hy Dinsdagaand op die sosialemedia-platform geskryf. Sy volledige brief volg onderaan die berig.

Pretorius en sy broer, Johan, is van die Boeremag-lede wat die swaarste gestraf is en elk 25 jaar tronkstraf moet uitdien.

Wilhelm het die afgelope paar jaar toegang tot internet gehad, maar gaan nou nie meer toegang hê nie.

– SAPA

Hiermee sy volledige brief:
Vaarwel my liewe vriende en volksgenote

Dit is vir my swaar om afskeid vanaand te neem van julle. Ons het vandag gehoor dat die regter net een oogmerk het met die straf en dit is om voorbeelde van ons te maak sodat dit as afskrikking sal dien. Hy het ook ten volle die staat se betoog aanvaar en ons betoog ten volle verwerp. Ons verwag dus dat daar swaar vonnisse sal volg en ek ’n hele ruk lank van julle verwyderd sal wees.

Ek weet dat baie van julle gebid het dat ons vry sal uitstap. Baie dankie daarvoor. Moenie dat dit geloof in ons Almagtige Vader skade doen nie. Jesus het ook gebid dat die beker by Hom moes verbygaan – en dit het nie. Indien Hy nie aan die kruis gesterf het nie en indien die beker by Hom sou verbygaan, sou elkeen van ons verlore in ons sonde gebly het. Die belangrike dus van gebed is om te bid ooreenkomstig met die wil van God. In hierdie geval was dit nie sy wil dat ons vry moet uitstap nie, maar dat ons wel verdere gevangenisstraf moet uitdien.

Ons weet nie altyd wat die Vader se plan met ons lewens is nie. Ons verstaan ook nie altyd waarom Hy die onreg toelaat nie. Wat ek wel weet is: Die wêreld is ons woning nie.
Dit merk ek aan die son wat wyk,
en ‘k merk dit aan die reier wat
mistroostig na die son sit kyk
op een been, in die biesievlei.
En is die laaste strale weg,
dan rys ʼn koue op uit die vlei.
ʼn Koue gril deurhuiwer my;
en ‘k sien dit dan in alle ding
wat in die skemer my omring:
die wêreld is ons woning nie.

Jesus het vir sy dissipels gesê: “As hulle dit aan my gedoen het, hoeveel te meer sal hulle dit aan julle doen.” Van sy twaalf dissipels het een selfmoord gepleeg, tien het die marteldood gesterf en een het gesterf in ballingskap. Die elf het nie ontbreek aan geloof nie, maar was net deur die wêreld gehaat, want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Behou geloof in ons Hemelse Vader wat ons so lief gehad het dat Hy sy Eniggebore Seun gestuur het om vir ons sonde te ly en te sterwe. Hy sal ons nooit versaak nie. Laat ons volk net nader groei aan Hom en ons ten volle aan Hom oorgee in elke ding. Laat dit weer bekend staan in die wêreld dat hier ’n klein en geringe volkie aan die suidpunt van Afrika is. ’n Volkie wat by Hom alleen sal skuil en voor Hom alleen sal kniel. Hou vas aan en bid onophoudelik vir die vernuwe van ons volk se Gees dat ons waarlik vry sal wees.

Ek groet dan vanaand vir ’n wyle met die laaste woorde:

In my skemeruur se laaste tree
waar die naguil met my waak
en die maan se troostend skaduwee
my siel kom rustig maak
suis stilte in my silhoeët,
sus soelheid van sy streel
om die lot wat môre uit mag deel
met vrede te beset.

Sonder twyfels of vrees
wat die vonnis kan wees
brand geloof se gloed soos ’n vlam
sou die hammer dan val
in doodskadudal
ek sal staan in die bloed van die Lam.

Laat die Boer nou as balling
in ’n loflied verrys
om trou te bly wandel
tot die vierkleur weer hys.

27 Oktober 2013
Lokaal Gevangenis, Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annie ·

A de Lange, is jy smetloos? Onthou daar is geen groot of klein sondetjies nie. Wat weet jy wat in Wilhelm en al die ander se harte aangaan? Wat weet jy hoe hy/hulle al voor God gesmeek het om hul te vergewe? Jy is seker sonder sonde, daarom kan jy so lekker klippe gooi…. Oor die regstelsel sal ek liewers stilbly…

PIET ·

HIERDIE SIELE HOORT NIE IN DIE TRONK NIE, MAAR IN `N INRIGTING VIR VERSTANDLIKE GESTERMDES. HOE OP AARDE HET HULLE GEDINK DAT HULLE SO IETS KON VERMAG.

EK BEJAMMER HULLE GLAD NIE, MAAR WEL HULLE FAMILIES. DIT IS NET JAMMER DAT DIE POLISIE SE INFORMANTE WAT DIE IDIOTE SO MISLEI HET NIE OOK TEREG STAAN NIE. VIR JOINERS SOOS HULLE IS DAAR NIE PLEK NIE.

Ben ·

Die regering het al in die 70er jare Christelike beginsels in die parlement prysgegee, en kiesers was met die 1994 referendum om die bos gelei. Dat jy nou met ‘n regering sit wat ingelui is deur ‘n Mandela wat die vorige regering as onwettig beskou het, is net die Afrikaners se eie skuld, en dis ook net deel van ‘n proses wat al met die stigting van die ANC begin het. Om nou die hand in die boesem te wil steek en die adder te wil doodmaak is helaas te laat, lyk dit.

Demokrasie was die opsie want almal wil tog maar in welvarende stede, met ‘n meer kosmopolitiese kultuur, bly. Statistieke toon aan dat dit die geval is met 70% van die land se inwoners.

Dalk bied iemand soos die Siener van Rensburg se visoene hoop, maar eers sal daar daarvolgens ‘n Derde Wereldoorlog moet uitbreek, globale ekonomiese probleme ontstaan, die spoorlyn na Luderitz voltooi word, en Duitsland meer pertinent tekens moet toon om hier te wil help, alvorens meer drastiese optrede geregverdig sou kon word. Baie gevaarlik om op klein skaal dinge deur wapengeweld te wil verander.

Die Pretorius gesin lyk na intelligente en beskaafde mense, en nie na obsessiewe boewe nie, maar daar het stellig die regte perspektief ontbreek. Dalk gaan dit finansieel ook te goed met baie Afrikaners, wat nie werklik besef hoe werklik arm mense ly nie, en dan ‘n selfregverdigende houding inneem.

Ek dink nou aan Jansi en Carl Niehaus, wat in die 1980’s bomme vir die ANC geplant het en toe ook aan hoogverraad skuldig bevind is. Hulle is toe wel vrygelaat met die nuwe bedeling en het Ambassadeurspaar in Nederland geword.

Shakespeare sou gewonder het of daar “method in the madness” is.

Na my wete was Mandela ‘n 33ste graad Vrymesselaar, wat dalk verklaar waarom hy as ‘n tipe “Messias” gesien is: die hoogste sport was bereik in die geldmagte se rangorde. De Klerk was ook ‘n Vrymesselaar, na my wete. Leiers wat dubbele agendas het en toelaat dat mense op grondvlak uitgemoor word terwyl leiers agter die skerms hande vashou is ‘n groter gevaar vir ‘n land as ‘n paar wat desperate pogings aanwend om die status quo te verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.