Boeremag-lid: ‘Hulle het my siel verkrag’

Kobus Pretorius getuig ter strafversagting in die hooggeregshof in Pretoria. Sy gesig mag volgens ‘n hofbevel nie gewys word nie. Foto: eNuus

Kobus Pretorius, veroordeelde lid van die Boeremag, het Woensdag in die hooggeregshof in Pretoria sy ouers se verklarings van onsterflike liefde, verwerp.

Hulle uitsprake was “oneerlik” en “voorwaardelik” het Pretorius getuig. Hy sê hy het nooit opregte liefde van sy pa en medebeskuldigde, Dr Lets Pretorius, of sy ma, Minnie, ontvang nie. Piet Pistorius, regsverteenwoordiger van dr Pretorius, het dit aan hom gestel dat sy ouers hom onvoorwaardelik lief het en die spreekwoordelike vetgemaakte kalf sal slag en ʼn fees sal hê as hy eendag terugkeer huis toe. Pretorius sê hy het opgehou om sy ouers se briewe te lees aangesien hy moeg daarvoor is dat hulle hom in die rug steek en sy nuwe ouers (sy geestelike adviseur Sonja Jordaan en haar man) slegsê. Pistorius het dit aan hom gestel dat sy kinderjare een was van liefde, deernis en sterk familiebande. Pretorius het geantwoord: “Hulle liefde was nooit die liefde vir ʼn kind nie maar die liefde vir ʼn besitting. Hulle soek hulle besitting terug. As ons goed grootgemaak is, hoekom het drie jong intelligente mans betrokke geraak by die Boeremag-saak?” Pretorius sê hy voel gegrief dat sy pa hom nie net daarvan beskuldig het dat hy skisofrenies is nie, maar dit as ‘n feit gestel het, wat nie waar is nie. Hy het sy ouers daarvan beskuldig dat hulle sy “siel verkrag het” en dat hy nooit ʼn emosionele band met hulle gehad het in sy kinderjare nie. Pretorius het homself gedistansieer van wat hy beskryf as sy familie se uiterste politieke en godsdienstige oortuigings.

Pistorius het ʼn gedig genaamd “Verkragting” aan die hof oorhandig, waarin hy sy grootmaak deur sy ouers vergelyk met ʼn jong meisie wat deur ʼn man verkrag word. Volgens Pretorius was sy pa baie streng en het hy hom gereeld pak gegee en het dit veroorsaak dat hy bang was vir manlike onderwysers in sy skooljare. Die saak duur voort.

Die verslag (onder) van eNuus is gisteraand oor die hofsaak uitesaai. eNuus word daagliks om 19:00 op kykNet kanaal 144, Dstv uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.