Boeremag-lid kry nie borgtog nie

Dr. Lets en Minnie Pretorius Foto: IOL

Dr. Lets en Minnie Pretorius Foto: IOL

Daar is geen redelike vooruitsig dat ʼn ander hof die skuldigbevinding van die 20 Boeremag-lede sal verander nie, het die Pretoriase hooggeregshof Woensdag bevind.

Regter Eben Jordaan het ʼn aansoek van dr. Lets Pretorius om borgtog, hangende ʼn aansoek om verlof tot appèl teen sy skuldigbevinding aan hoogverraad en ʼn 30 jaar gevangenisstraf, van die hand gewys.

Pretorius se vrou, Minnie, het begin huil en vir lank ná sy aansoek om borgtog van die hand gewys is, vooroor gebuk bly sit.

Pretorius en sy seuns, Johan, Kobus en Wilhelm, is onder die lede wat verlede maand gevonnis is vir hul sameswering om die ANC-regering gewelddadig omver te werp. Die mans is tussen vyf en 48 jaar tronkstraf opgelê met gedeeltes van hul tronkstraf wat opgeskort is.

Vyf van die mans is gevolglik vrygelaat en die res moet gevangenisstraf van tussen vyf en 25 jaar uitdien.

Een van die mans, wat in ʼn ouetehuis is ná ʼn beroerte, is nie gevonnis nie.

Pretorius, wat tronkstraf van 20 jaar moet uitdien, het vroeër gesê dit is onwaarskynlik dat hy parool sal kry, aangesien hy wit en ʼn politieke gevangene is. Hy sal moontlik eers in die ouderdom van 87 uit die tronk gelaat word. Hy het aan die hof gesê hy het nie so ʼn lang tronkstraf verwag nie, en moet op borgtog vrygelaat word sodat hy ʼn testament kan opstel, behoorlik voorsiening kan maak vir die onderhoud van sy vrou en kleinkinders, en om geld te verdien vir sy appèlaansoek.

Hy het gesê hy het gesondheidsprobleme en moet verskeie operasies ondergaan en hy wil graag sy vrou ondersteun, wat vroeër borskanker gehad het en aan depressie ly.

Pretorius, wat vir nege jaar lank op borgtog vrygelaat is, hou vol dat hy nie ʼn risiko inhou vir die publiek nie.

Die staat het sy aansoek om borgtog teengestaan en gesê hy sal moontlik vlug weens die lang gevangenisstraf wat hy opgelê is.

Jordaan sê dit is logies dat Pretorius se situasie verander het sedert hy op borgtog vrygelaat is. Hy sê hy moet die vooruitsig van sukses op appèl in ag neem, wat na sy mening nie bestaan nie. “Ek kan nie enige redelike vooruitsig sien dat enige ander hof die skuldigbevinding tersyde gaan stel of ʼn ander vonnis gaan oplê nie,” het Jordaan gesê. “Die veroordeelde se skuldigbevinding is gebaseer op ʼn hele aantal getuies en ʼn bevinding dat hy nie ʼn geloofwaardige getuie was nie.”

ʼn Ander kwessie was Pretorius se borgtog van R500 000 wat deur die eiendom van ʼn maatskappy, in wie hy nie meer ʼn belang het nie, verseker sou word. Hy sou dus niks verloor indien hy vlug nie. “Ek kan nie sien waarom hy nie sy testament kan opstel terwyl hy in die tronk is nie. Sy gesondheidsprobleme kan ook in die tronk behandel word.”

Hy sê Pretorius se vrou sal vir haarself moet sorg, maar dit is die natuurlike gevolg van die lang gevangenisstraf wat haar man opgelê is.

Lees ook:
Boeremag-dokter sê hy sal sterf in die tronk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

PUREBOER ·

Regter Eben Jordaan het geen genade vir die siek man, wag maar, elke hond kry sy dag en die wiel draai.
Selebi sit en vreet lekker en beweeg vry rond???? Nee wat, die hele land is teen die wit volk wat die land op gebou het. Ek glo in my diepte dat dinge nog nie oor is nie, groot dinge gaan nog gebeur in SA

JB ·

Nou waarom kan Sheik en kie, wat vry loop daar buite, nie ook medies behandel word in die tronk nie? Daar sal nog jare rassisme in SA wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.