Boeremag-saak: 19 nou skuldig

Foto: Facebook

Vyf beskuldigdes in die Boeremag-saak is Vrydag skuldig bevind dat hulle saamgesweer het om voormalige president Nelson Mandela te vermoor.

Negentien van die 20 verdagtes is nou reeds aan hoogverraad skuldig bevind. Regter Eben Jordaan het Herman van Rooyen, Rudi Gouws, en die broers Johan, Kobus en Wilhelm Pretorius skuldig bevind dat hulle in Oktober 2002 saamgesweer het om Mandela met ‘n tuisgemaakte bom wou vermoor.

Die vyf is ook aan strafbare manslag skuldig bevind van die moord op Claudia Mokone in Soweto 2002. Mokone het gesterf toe ‘n stuk staal haar teen die kop getref het ná ‘n bom, wat deur die Boeremag geplant is, ontplof het. Die regter sê die Staat kon nie bewys dat die beskuldigdes Mokone vermoor het nie. Die huis kon nie van die spoorlyn af, waar die bom geplant is, gesien word nie. Die bom het ook om middernag ontplof toe daar nie baie mense in die omgewing was nie. Enigeen wat ‘n bom plant, moet egter voorsien dat iemand dood kan gaan.

Die 15 ander beskuldigdes is op dié moordklag vrygespreek. Jordaan sê hulle kon nie vir die nalatige optrede van die vyf bomplanters verantwoordelik gehou word nie.

Jordaan het die getuienis van mede-samesweerder, Deon Crous, aanvaar dat hy en die vyf bomplanters op die ingewing van die oomblik besluit het om Mandela te vermoor. Hulle het in ‘n koerant gelees dat hy ‘n skool in Bolobedu naby Tzaneen sou open. Hulle het geglo dat Mandela se dood daartoe sou lei dat swart mense in die land wit mense sou aanval, en dat dít witmense sou aanspoor om die Boeremag te steun.

Wilhelm Pretorius se oorlogsdagboek, in taal deurvlek met rassistiese aanmerkings, het in besonderhede die poging op Mandela se lewe verduidelik. Van Rooyen en die broers Johan en Wilhelm het na Bolobedu met ‘n tuisgemaakte bom gereis om die skool op te blaas. Die bom is uiteindelik in ‘n sloot naby ‘n pad, wat hulle gehoop het Mandela sou gebruik, geplant. Vislyn is oor die pad gespan en twee van die mans het in bosse weggekruip om die bom op te blaas wanneer hulle Mandela se voertuig sou sien.

Hulle het gehoop dat, as hulle veronderstel was om Mandela te vermoor, die weer nie gunstig genoeg sou wees vir hom om per helikopter te reis nie. Luidens die dagboek het hulle besef hulle plan is omvergewerp toe hulle die helikopter gehoor het.

Van Rooyen het later die bom uitmekaar gehaal. Hy en Wilhelm Pretorius het tot laat die aand in die bosse gewag vir Johan Pretorius om hulle te kom oplaai. Volgens die dagboek het God hulle daardie dag beskerm, aangesien hulle nie gevang is nie, ten spyte daarvan dat ‘n verkeersbeampte en ‘n polisiebeampte hulle konfronteer het. Pretorius het ‘n weermaguniform aangehad en hy kon die polisiebeampte oortuig dat hulle met ‘n “oefening” besig was.

Jordaan sal na verwagting Maandag sy uitspraak afsluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.