Boeremag se aansoek van die hand gewys

Boeremaglede en hul prokureurs in die hof Foto: Barry Bateman, EWN

Die Pretoriase hooggeregshof het ‘n aansoek deur die Boeremag-beskuldigdes van die hand gewys om spesiale aantekeninge in die hof se oorkonde te maak oor ‘n onreëlmatigheid tydens hul hofsaak, het die Citizen Saterdag berig.

Regter Eben Jordaan het Vrydag die aansoek deur die 20 beskuldigdes, wat verlede jaar aan hoogverraad skuldig bevind is, van die hand gewys, maar het gesê hy sal in ‘n latere stadium eers sy redes vir dié besluit gee.

Die aansoek was bedoel om later tydens hul appèlaansoek teen hul skuldigbevinding gebruik te word.
Die groep regses is skuldig bevind dat hulle in die laat 1990s en vroeë 2000s die ANC-regering wou omverwerp.

Sommige van die beskuldigdes het tydens hul verhoor aangevoer dat hulle soldate was in ‘n wettige stryd vir ‘n onafhanklike Boererepubliek. Hul aansoek om as oorloggevangenes verklaar te word, is geweier.

Ná hul skuldigbevinding is bewyse ingedien wat, volgens hulle, bewys dat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid hul gesprekke met hul regsverteenwoordigers by C-Max-tronk en in aanhoudingselle afgeluister het.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trippie ·

Wat meer kan mens se, ek dink aan julle – VASBYT – gebede ook met jul geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.