Boeremag sou “bloedbad” veroorsaak

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Indien die Boeremag se hoogverraad-planne tot ‘n uitvoering gebring is, sou dit op ‘n bloedbad uitgeloop het, het regter Eben Jordaan Maandag in die Pretoriase hooggeregshof gesê.

Jordaan het Maandag, presies 10 jaar ná die eerste getuie in die getuiebank verskyn het, met sy vonnisoplegging begin. Hy sal na verwagting Dinsdag die 20 mans, wat almal aan hoogverraad skuldig bevind is, vonnis.

Die Boeremag se “bomeenheid”, Herman van Rooyen, Rudi Gouws en broers Johan, Kobus en Wilhelm Pretorius, is ook skuldig bevind aan strafbare manslag en sameswering om voormalige pres. Nelson Mandela te vermoor.

Claudia Mokone, ‘n ma van Soweto, is dood toe ‘n stuk staal, van ‘n tuisgemaakte bom, haar plakkershuis getref het. Planne om Mandela, oppad na ‘n skool in Bolobedu, met ‘n bom te vermoor, is weerlê toe hy met ‘n helikopter opgedaag het.

Jordaan sê die politieke dispensasie in Suid-Afrika het sedert 1994 geheel en al verander en elke landsburger het nou die reg om te stem, ondanks hulle velkleur. Die Grondwet is die kerndokument van die nuwe bestel en die hoeksteen van demokrasie, het hy gesê. Die Handves van Menseregte beskerm politieke regte, die reg om te stem en minderheidsregte, maar nie wanneer dit die regte van ander benadeel nie.

Hy sê elke landsburger het die reg om ‘n politieke party te vorm en om ‘n politieke agenda te dryf en kan gevolglik die politieke dispensasie van die land verander deur die leiers uit te stem. Dit moet egter binne die raamwerk van die Grondwet geskied, wat ‘n proses van verandering deur onderhandeling voorstel.

Jordaan sê die beskuldigdes het beplan om die ANC-regering omver te werp deur ongrondwetlike metodes wat geweld en beplande geweld ingesluit het. Hulle planne het vreedsame naasbestaan bedreig en dit sou op ‘n bloedbad uitgeloop het indien die planne tot ‘n uitvoering gebring is.

“Almal was nie tevrede met dit wat in Suid-Afrika gebeur nie, maar indien enigiemand gewelddadig geraak het, sou daar chaos gewees het, en dit kan nie deur enige samelewing geduld word nie,” het Jordaan gesê.

Mense wat die ekstremistiese siening van die beskuldigdes deel, moet besef dat dit nie die moeite werd is nie, het hy bygevoeg.

Die regter het die persoonlike omstandighede van elkeen van die beskuldigdes opgesom. Dit strek van hoogs gekwalifiseerde akademici tot mediese dokters, boere en soldate.

Talle van die Boeremag-lede is al langer as 10 jaar in aanhouding. Twee van die beskuldigdes is sedertdien oorlede en een van die lede word in ‘n tehuis versorg ná ‘n reeks beroertes. Meeste van die lede het kinders wat sonder hul pa’s sal grootword en talle huwelike het verbrokkel weens die spanning van die hofsaak.

‘n Paar beskuldigdes het politieke redes vir hul optrede aangebied, maar Jordaan het gesê dit is nie ‘n versagtende faktor nie, dit dien inderdaad as verswaring tot hul vonnis.

Die vonnisoplegging duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Tokkie ·

Ja en Eben Jordaan is seker ook maar net in die sak van die ANC

sarie ·

Ek dink volgens my oordeel het hulle genoeg tyd gehad on te dink,party is oorlede,party met beroertes,kan die res nie maar nou vry kom,ek dink hulle is goed gestraf vir dit wat hulle verloor het,hoekom nog jare sit.

Jan ·

Ek verstaan nie die regter se argument nie. As ek gistraand, soos beplan, dronk van die party af gery het, sou ek ‘n bloedbad kon veroorsaak. Die polisie het gekeer dat ek dronkbestuur maar nou moet ek gestraf word?

Trotse Boer ·

Dit is nie ‘n skande om tronk toe te gaan vir dit waarin jy glo nie. Die boeremag is vandag wel gevonnis en die boervolk het nog ‘n aanslag verloor, ons is verslaan, maar nie verslae nie !!!
Die afrikanervolk het in die verlede te midde van baie moeilike omstandighede uit die stof verrys, en ons kan en gaan weer . Intussen dra ons die boeremaglede en ook elke ander trotse blanke in ons gebede, terwyl ons sonder ophou bid dat ons verlos mag word van hierdie onverantwoordelike bestel waarin ons ons bevind

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.