Boeremag: Staatsgreepplanne bekend gemaak

Tom Vorster

Tom Vorster, leier van die Boeremag, se staatsgreepplanne is Vrydag in die hof bekend gemaak.

Volgens regter Eben Jordaan se opsomming van die saak teen Vorsters sou die Parlement, die SAUK, die SA Reserwe Bank se hoofkantoor en die Johannesburgse Effektebeurs glo op dieselfde dag opgeblaas word.

Jordaan het reeds nege van die 20 beskuldigdes aan hoogverraad skuldig bevind sedert uitspraak verlede week Maandag in dié uitgerekte hofsaak begin het. Jordaan het bevind dat Vorster, ‘n voormalige beampte in die Weermag, wat ook ‘n sekuriteismaatskappy besit het, vroeg in 2002 by Mike du Toit oorgeneem het as leier van die Boeremag. Vorster het nie net met Du Toit se planne om ‘n staatsgreep uit te voer voortgegaan nie, hy het ook dié planne uitgebou en versnel. Volgens Jordaan is Vorster se verweer dat hy die planne in “selfverdediging” opgestel het, “nonsens”. Vorster het op verskeie geleenthede verklaar dat die Boeremag die land sou “terugneem” en dat swart mense uit die land gejaag moet word en dat bruin mense “vir later gelos” sou word.

“Dit is duidelik dat hy oorlog teen die regering verklaar het en dat hy besig was met ‘n gewelddadige staatsgreep,” het Jordaan gesê.

Vorster het ‘n oorlogboekie opgestel wat ‘n eed van getrouheid aan die Boeremag ingesluit het. Dié eed is gebruik om nuwe Boeremag-lede in te sweer. Lede het ‘n koeël ontvang as ‘n simbool dat verraaiers geskiet moet word.

Jordaan het Vorster se bewerings dat hy die boekie jare gelede, in opdrag van sy kommandeur, terwyl hy nog in die Weermag was, opgestel het, verwerp.

Henk van Zyl, self-erkende lid van die komplot, het vroeër getuig dat Vorster hom van sy droom vertel het om ‘n group vroue in ‘n gebou, byvoorbeeld Armscor se gebou in Pretoria, te hou. Dié vroue sou met die sperm van Boeremag-lede insemineer word om ‘n “nuwe nasie” te bou. Vorster het glo tydens dieselfde gesprek voorgestel dat die komediant Casper de Vries “opgeblaas” moet word, aangesien “hy nie op die regte pad is nie”.

Die hof het getuienis aanvaar dat Vorster, ná die inhegtenisneming van die eerste drie beskuldigdes, een van die staatsgetuies, Lourens du Plessis, vir R100 000 gevra het om toerusting aan te skaf en vir hul regskoste te betaal. Jordaan sê dit is duidelik dat Vorster geld gesoek het om die staatsgreep uit te voer.

Die hof het Van Zyl se getuienis aanvaar dat Vorster in Julie 2002 vir hom gesê het dat “D-dag- en die operasie waarna hy as “Popeye” verwys het, naby is. Vorster het glo gesê dat die Parlement teen middagete opgeblaas sou word, en twee ure later, ander teikens soos die Reserwe Bank, taxi-parkeerareas in Johannesburg, en Luthuli House (die ANC se hoofkantoor). Vorster het verklaar dat die Rand niks werd sou wees nie en dat dit deur ‘n nuwe monetêre sisteem “Die Veld” vervang sou word. Hy het bygevoeg dat motorfietse aangeskaf sou mos word om mee weg te jaag nadat die bomme geplant is, dat motors gehuur moes word en drie pypbomme vir elk van die beplande bomontploffings gebruik sou word.

Regter Jordaan sê motors is wel later vir dié doel gehuur.

Die planne wat deur Vorster beskryf is het ook die oorname van verskeie militêre basisse ingesluit en die skep van “spookeenhede” om dit soos ‘n massiewe aanslag te laat voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.