Boeremag-verhoor nader einde

Van die beskuldigdes in die Boermag-verhoor toe dit in 2003 begin het. Shayne Robinson/SAPA

Die hooggeregshof in Pretoria het Woensdag slotbetoë aangehoor in die sogenaamde Boeremag-verhoor.

Regter Eben Jordaan het die 20 beskuldigdes se saak tot 3 Februarie uitgestel wanneer hy ʼn aanduiding sal gee van wanneer uitspraak in die saak verwag kan word. Die saak duur reeds langer as agt jaar en die rekord van bewyse alleen bestaan uit byna 50 000 bladsye. Die staat vra dat die beskuldigdes skuldig bevind word aan hoogverraad aangesien hulle plan om die regering om ver te werp steeds bestaan. Daar is onder meer aangevoer dat die beskuldigdes veiligheid op plase en die visioene van Siener van Rensburg as ʼn rookskerm gebruik het om ondersteuning te kry vir hulle plan om ʼn staatsgreep uit te voer. Die staat voer aan hy het bewys dat sekere teikens geïdentifiseer is, wapens en ammunisie bymekaar gemaak is, plofstowwe vervaardig is en motors gehuur is vir motorbomme toe die groep se planne aan die lig gekom het. Volgens die staat het ʼn klein groep voortgegaan om bomme te plant nadat die beskuldigdes in hegtenis geneem is. ʼn Vrou is dood en haar gesin beseer nadat ʼn treinspoor in Soweto opgeblaas is. Die groep het glo ook beplan om oud-president Nelson Mandela op te blaas. Die groep se sogenaamde “leiers” is sedert hulle inhegtenisneming nege jaar gelede in aanhouding. Twee van die beskuldigdes is reeds dood. Herman van Rooyen en Rudi Gouws het in 2006 uit aanhouding ontsnap en is in Januarie 2007 weer vasgekeer. Van Rooyen en Gouws was ook deel van ʼn groep van vyf beskuldigdes wat in Mei vanjaar uit die hof probeer ontsnap het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.