Regter Eben Jordaan het tot dusver nege van die 20 beskuldigdes aan hoogverraad skuldig bevind. Jacques Olivier, Pieter van Deventer en Fritz Naude is Donderdag aan hoogverraad skuldig bevind, berig EWN. Olivier en Van Deventer was lede van die Weermag in die tyd wat hulle by die verregse komplot aangesluit het om ʼn staatsgreep uit te voer. Jordaan het aangedui dat die twee mans se lojaliteit by die land moes gelê het, aangesien hulle trou aan Suid-Afrika gesweer het en hulle ʼn plig gehad het om die plan aan te meld.
Naude was nie in die hof tydens die uitspraak nie, aangesien hy steeds van ʼn beroerte herstel.
Die Boeremag se planne om Suid-Afrika “terug te neem” het planne ingesluit om chaos in die land te saai en ʼn gebeurtenis te veroorsaak wat hulle die geleentheid sou bied om beheer by die militêre basisse oor te neem. Die regering sou dan deur ʼn militêre wit regering vervang word en alle swart en Indiese mense sou uit die land gejaag word. Daar was glo ook planne om die Vaaldam op te blaas, ʼn Boeing-vliegtuig af te skiet en kragstasies op te blaas.
Spesifieke opdragte is aan spesifieke mense by vergaderings toegedeel.