Boeremag-verhoor: Vierde verdagte skuldig aan hoogverraad

Boeremag-verdagtes in die hof Foto: EWN

Adriaan van Wyk, die vierde verdagte in die Boeremag-verhoor is Dinsdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof aan hoogverraad skuldig bevind.

Volgens regter Eben Jordaan was Van Wyk ‘n lid van die Boeremag se binnekring en was hy ‘n leier in die sentrale vegspan. Indien die staatsgreep suksesvol sou wees, sou hy beheer van Pretoria oorgeneem het. Jordaan sê die rekenmeester was ook daarvoor verantwoordelik om weermagvoertuie op te blaas, berig EWN.

Van Wyk, soos die vorige Boeremag-lede wat reeds skuldig bevind is, word in die sogenaamde “Dokument 12”-plan genoem. Die regter het bewerings dat Van Wyk deur ‘n polisie-informant by die komplot betrek is, afgemaak.

Rooikoos du Plessis is Maandag aan hoogverraad skuldig bevind, en meesterbrein Mike du Toit en sy broer André, is verlede week aan hoogverraad skuldig bevind.

Jordaan het ook die bewerings dat alle staatsgetuies bewyse fabriseer het oor vergaderings waar die staatsgreep bespreek is, afgemaak.

“Dokument 12” is die verregse groep se bloudruk vir sy beplanning om ‘n “slegs wittes”-staat te stig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.