Boetes dalk binnekort via e-pos

Voorgestelde wetgewing mag die weg baan dat boetes in die toekoms ook per e-pos uitgestuur word.

Beeld berig dit blyk uit wysigings aan die Wet op die Administratiewe Beregting van Padverkeersmisdrywe (Aarto) wat verlede maand in die Staatskoerant gepubliseer is. Die publiek het tot en met 21 Maart om op die voorgestelde wetgewing te reageer.

Die inwerkstelling van Aarto, wat tans net in Johannesburg en Pretoria toegepas word, is in ander dele van die land uitgestel weens voortdurende administratiewe probleme en vervolgingskwessies.

Dertien jaar nadat die Aarto-strafpuntestelsel voorgestel is, is dit steeds nie in werking nie. Volgens die Aarto-stelsel moet oortreders per geregistreerde pos van die oortreding in kennis gestel word. Volgens die berig het die Johannesburgse metropolisie voorheen gesê dat daar nie genoeg geld is om alle boetes per geregistreerde pos uit te stuur nie.

Uit die voorgestelde wysigings blyk dit dat die regering probeer om die oorspronklike wet te verander sodat kennisgewings nou ook per e-pos gestuur kan word.

Die publiek kan tot 21 Maart hul kommentaar lewer aan Johannes Makgatho by [email protected] of Ngwako Thoka by [email protected].

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.