“Boikot City Press,” vra ANC

Die ANC het Donderdag in ʼn verklaring ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners, lede van die ANC en die Alliansie gedoen om die City Press-koerant tot verdere kennisgewing te boikot.

Volgens die ANC sal dié boikot duur totdat City Press die “beledigende skildery” van ʼn ontblote president Zuma van hul webwerf verwyder het. Die ANC doen verder ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om aan hul protesoptog na die Goodman-galery in Johannesburg deel te neem op Dinsdag, 29 Mei.

Volgens die ANC is die City Press-dagblad se volgehoue vertoon van die skildery op hul webwerf ʼn teken dat hulle “nie aan ons gedeelde demokratiese bestel en waardes behoort nie”.

Yusuf Abramjee, voorsitter van die Nasionale Persklub (NPC) sê die aanvalle op die media is “ongevraagd en ʼn emosionele reaksie”. “Die saak is nou voor ʼn hof en ʼn versoek om City Press te boikot is onvanpas. Dit gaan emosie en aggressie net weer laat opvlam. Ons versoek die ANC om die verklaring terug te trek. Die ANC het ʼn verantwoordelikheid om nie voort te gaan om temperature te laat opvlam oor dié omstrede kwessie nie,” het Abramjee gesê.

Ferial Haffajee, uitvoerende redakteur van City Press het gesê die ANC se versoek ontstel haar. “Hy [Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP] moet baie kwaad wees en dit maak my hartseer,” het sy gesê. Haffajee het bygevoeg dat sy nooit beweer het haar of die City Press se vryheid van spraak is onbeperk nie. “Maar ons reg om te publiseer en vryheid van uitdrukking is grondwetlik.”

Brett Murray, die kunstenaar van die omstrede skildery, “The Spear” wat pres. Jacob Zuma met ʼn oop gulp voorstel, het nog nie kommentaar gelewer op die reaksie wat sy skildery uitgelok het nie.

Twee mans is Dinsdag in hegtenis geneem nadat hulle die skildery met verf geskend het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.