“Boikot Loftus oor raskwotas”

Argieffoto.

Argieffoto.

AfriForum meen Loftus Versfeld moet geboikot word omdat die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) ten gunste van die raskwotastelsel is.

“AfriForum het betroubaar verneem het dat die BBRU se verteenwoordigers by die Suid-Afrikaanse rugby-unie (SARU) verlede week ten gunste van die instelling van die raskwotastelsel in die Vodacombeker-reeks gestem het,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

SARU het op 15 Augustus aangekondig dat die kwotastelsel van die volgende seisoen van die Vodacombeker-reeks toegepas sal word. Lees meer hier.

“Met hierdie stap het die BBRU ter wille van politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie, sy rug gekeer op lojale Blou Bul-ondersteuners wat week na week duur betaal om die Bulle op Loftus te ondersteun,” het Kriel Vrydag aan Maroela Media gesê.

Volgens Kriel is AfriForum se inligting dat die ander groot unies in die noorde, hulle eweknieë in die suide se voorbeeld gevolg het en ook ten gunste van rassekwotas gestem het. Kriel het ʼn beroep gedoen op die ondersteuners van die groot unies om hulle provinsies te kontak en standpunt in te neem teen kwotas. “Stilswyende aanvaarding van die BBRU en ander rugby-unies se steun aan rassekwotas in die Vodacombeker, sal meebring dat SARU dieselfde soort rassemanipulasie in die Superrugby- en Curriebekerreekse sal wil toepas,” het Kriel bygevoeg. “Ondersteuners betaal duur om meriete-rugby te kyk en betaal nie om na polities gemanipuleerde spanne te kyk nie.”

Kriel, wat vir die afgelope tien jaar ʼn seisoenkaartjiehouer op Loftus is, het aangedui dat hy uit protes teen die BBRU se steun aan rassekwotas, besluit het om nie volgende jaar sy seisoenkaartjies te hernu nie. Volgens Kriel wil hy op geen manier help om kwota-rugby te befonds nie. “Ek sal dit eers oorweeg om my kaartjies te hernu, wanneer die BBRU sy politieke gedienstigheid aan die ANC se rasse-ideologie staak. As lojale Bul-ondersteuner was dit vir my ʼn groot teleurstelling om die afgelope seisoen te moes beleef dat die BBRU bestuur prominente ANC-lede toegelaat het om die veld te betree en in een geval selfs  ʼn geleentheid gebied het om die skare op Loftus toe te spreek. Ek het betaal om rugby te kyk en nie aan ANC-politiek onderwerp te word nie,” het Kriel gesê.

Volgens Kriel is dit veral tragies dat die bestuur van die BBRU juis in die jaar waar 75 jaar van Blou Bul-rugby gevier word, sy rug op die span se betalende ondersteuners gekeer het. “Hopelik sal druk deur ondersteuners uiteindelik daartoe lei dat die BBRU en ander groot unies se besture in die toekoms die spel en spelers, eerder as ʼn politieke agenda, sal dien. Ek en ander lojale ondersteuners is te lief vir rugby en ons spanne om die kwotastelsel gelate te aanvaar,” het hy bygevoeg.

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die BBRU, het Vrydag aan die media gesê die Blou Bulle is ten volle verbind tot transformasie en dat hy hom nie gaan uitlaat oor wat AfriForum hieroor te sê het nie. “Ek kan bevestig dat die BBRU hom verbind tot SARU se transformasie-handves,” het Van Graan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stoere Boer ·

Toemaar die Bulle speel so vrot dat hulle al klaar geboikot word. Ongelukkig is die waarheid dat geen boikot enige effek op die rasse kwotas sal hê nie. Dalk moet ons maar afstig en ons eie privaat toernooie reel sodat rugby ook maar ten gronde gaan. Ag vergeet ek geld kan tot lojaliteit koop

leynette ·

Ek het nie ‘n probleem met anderkleuriges in die spanne nie maar dan moet die persoon “gespeel” het vir daardie posisie en nie net omdat rasse kwotas gedoen moet word nie. Indien die rugby unies dit wel toestaan, dan moet daar mos blankes in die sokker spanne ook wees. Reg is mos reg of hoe? Al wat ek kan se is dat indien rasse kwotas in werking gaan tree, stel ek glad nie meer belang om te gaan rugby kyk nie

Erich Goosen ·

Om vir die Bulondersteuners te se om Loftus te boikot is net so goed om jou Boerboel aan te se om nie die worsie se vleis te eet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.