Bokke klop Italië gemaklik

Ondanks ‘n flouerige tweede helfte het die Springbokke steeds vyf drieë gedruk om Italië oortuigend met 44-10 te klop. Die halftydtelling was 20-0.

Dit is die Bokke se eerste internasionale wedstryd van die jaar en sekere nuwelinge soos JJ Engelbrecht, Willie le Roux en Arno Botha het uitgeblink. Hardebaarde soos Bryan Habana en Morné Steyn het eweneens gewys hoekom hulle hul plekke in die Bok-span verdien. Habana het ‘n pragdrie gedruk en ‘n groot aandeel in JJ Engelbrecht se drie gehad en Steyn het met sewe uit sewe pogings pale toe geslaag. Habana was ook die speler van die wedstryd.

Die Bok-haker Adriaan Strauss het reeds vroeg in die eerste helfte oorgeduik ná een van die Bokke se robuuste rolmaalbewegings. Engelbrecht het kort daarna afgerond toe Habana die Italiaanse verdediging oopgeklief en hom weggestuur het. Vir die laaste deel van die eerste helfte en die eerste deel van die tweede helfte het die Bokke hul voet van die pedaal afgehaal en die Italianers kans gegee om hul stempel af te druk. Hulle het veral in die eerste 20 minute van die tweede helfte in die Bokke se kwartgebied geboer. Hulle is beloon met ‘n drie toe Bjorn Basson met ‘n geelkaart afgestuur is en die Bokke nie genoeg verdedigers oorgehad het om die senter Alberto Sgarbi te keer om te druk nie.

Die Bokke het laat in die wedstryd die krane oopgedraai toe Jean de Villiers, Habana en Bjorn Basson gaan druk het. Die Bokke se verdediging, onvermoë om af te rond en ongedwonge foute is rede tot kommer, maar vir die eerste wedstryd van die jaar was dit ‘n redelik lofwaardige poging. Die indruk is vanaand geskep dat as hierdie agterlyn hul ritme gaan vind, kan hulle die beste in die wêreld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.