Bokke kry naelbyt-sege in Nelspruit

’n Jong en onervare Springbokspan het rugbyliefhebbers vanaand na hul asems laat snak toe hulle byna teen Skotland op Suid-Afrikaanse bodem vasgeval het.

Hulle het egter kop gehou en die Britte met 30-17 in Nelspruit geklop nadat die Suid-Afrikaners vir meeste van die wedstryd agtergeloop het.

Die Skotte het vroeg reeds gewys hulle gaan die feit dat die Bokke hulle straks kon onderskat, uitbuit deur by die afbreekpunte te oorheers en entrepreneuries op die aanval te wees. Die Springbokke het drie drieë gedruk en die Skotte twee terwyl die Bokke se twee wêreldklas-skoppers, Morné Steyn en Pat Lambie, voortreflik geskop het om slag vir die gashere te lewer.

Nadat die Skotte se Greig Laidlaw en Steyn onderskeidelik een en twee strafdoele deur die pale gejaag het, het die besoekers se binnesenter, Matt Scott, gaan druk om die halftydtelling 10-6 te maak.

Ná ’n goeie vertoning teen Italië laas Saterdag, kon die Bokke kon net nie hul ritme in die eerste helfte vind nie. Hul aanvalle was voorspelbaar en onbeholpe en hul verdediging heeltemal onbevoeg met tye.

Die begin van die tweede helfte het die Mbombela-stadion se toeskouers strak gelaat toe die Skotse buitesenter, Alex Dunbar, in die hoekie vir nog ’n drie oorgeduik het. Die kalf was in die put toe Laidlaw dit boonop 17-6 met die verdoelskop gemaak het.

Die Bokke het egter kalm gebly en is beloon met ’n strafdrie toe die Skotte hul berugte rolmaalbeweging onwettig wou kelder. Lambie het daarbenewens ’n langafstand-strafdoel oorgeklits om die telbord nuwe momentum te gee.

Die twee Bok-nuwelinge, JJ Engelbrecht en Jan Serfontein, het daarna agter die doellyn gaan kuier om die Bokke verligting te gee voordat hulle Samoa volgende week in Pretoria pak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Daar lê baie skaaf voor aan die Springbokke maar daar is tog hoop.

Die wedstryd teen Skotland het dit juis duidelik uitgewys dat geen wedstryd sonder deegelike oefening aangedurf kan word nie.

Sterkte nietemin met al die wedstryde wat nog tot die einde van 2013 voorlê !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.