Bokke leer Samoa ‘n rugbyles op Loftus

Ondanks ‘n louwarm tweede helfte het die Springbokke vanaand korte mette gemaak van Samoa in Pretoria.

Die eindtelling was 56-23 en die halftydtelling 32-9.

Die Bokke het ‘n allemintige agt drieë gedruk en dit was die styl waarin hierdie drieë gedruk is wat die oorwinning selfs soeter maak. Die Bokke het met brute krag en hardlooprugby die Samoaanse verdediging heeltemal oorhoops op Loftus Versfeld gehad.

Die eerste en tweede helfte het elk vier drieë opgelewer.

Bryan Habana het eerste punt gemaak toe Willie le Roux etlike verdedigers geflous het om die Bok-veteraan weg te stuur doellyn toe. Daarna het Francois Louw vir die eerste van sy twee drieë oorgeduik ná ‘n stewige dryfmaalbeweging deur die Bok-voorspelers.

JJ Engelbrecht en Bjorn Basson het beide in die hoekies gaan druk nadat die Bokke die bal wyd gespeel het en die geniale Willie le Roux het weer ‘n aandeel hierin gehad.

Die Bokke was stewig in die saal teen rustyd, maar die Samoane het hulself deur verbete aanvalle teruggespeel in die wedstryd ná aanvang van die tweede helfte. Samoa het 88% van die balbesit in die eerste tien minute van die tweede helfte gehad en dit is ontgin toe Teofilo Paulo deurgebars het vir sy span se eerste drie.

Die Bokke was knaend op die agtervoet, maar Habana en Morné Steyn het vinnig twee drieë ingeryg om feitlik die wedstryd te verseël vir die tuisspan.

Die reuse Samoaanse slot Junior Poluleuligaga het sy span se tweede en laaste drie daarna gaan druk en die kaptein, Paul Williams, het dit verdoel om die telling 42-23 te maak.

Louw, wat ook welverdiend die speler van die wedstryd was, het met Eben Etzebeth se hulp die tweede laaste drie gaan druk. Die Samoaanse afrigtingspan het stroef toegekyk hoe die Bok-nuweling Trevor Nyakane die Loftus-skare op hul voete gehad het met die laaste drie, wat ook grootliks deur Louw moontlik gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.